Inwoners wat in skuilings in die informele nedersetting Suikerbult naby die PSP Saagmeule woon, het Sondag ’n maaltyd en toiletware ontvang van Hands of Hope, ’n nuwe inisiatief wat uitreik na mense in nood. Dié inisiatief vra die publiek vir skenkings van toiletware, kos en klere om voort te gaan met hul taak.

’N INISIATIEF wat ontstaan het uit die droom van Vader Chassley Fredericks, ’n Anglikaanse predikant op Oudtshoorn, en sy familie, het vandeesweek gestalte gekry toe die uitreikprogram Hands of Hope geloods is. Fredericks se dogter, Levinia, is ’n maatskaplike ontwikkelingswerker van Kindersorg Oudtshoorn en het saam met haar pa aan die projek gewerk.
Die Fredericks-familie en ’n paar gemeentelede het verlede Sondag saam met die jeug van St Simon’s Kerk uitgereik na die haweloses van Suikerbult, ’n informele nedersetting wat langs die PSP Saagmeule in Oudtshoorn geleë is. ’n Maaltyd is aan sowat 37 mense bedien, terwyl die jeugdiges toiletware en ander items uitgedeel het.
Suikerbult se inwoners is volgens Levinia vanaf naburige plase daarheen verskuif en woon in skuilings sonder elektrisiteit. “Hulle maak gebruik van een groot gesamentlike vuur om hulle karige kossies en water te kook.”
Sy vertel daar was blydskap op hulle gesigte toe Vader Chassley die familie se droom met hulle gedeel het.
“Ons as kerk is soms so behep met onsself en is so gewoond daaraan om pragtige eredienste te hou en die een program op die ander te bedryf in ons pragtige kerkgeboue, en dan gaan ons baie selfvoldaan huis toe en dis waar ons Christenplig stop.
“Maar ons vergeet dat daar mense is wat ’n groter nood daarbuite het en wat desperaat is vir net ’n bietjie omgee en liefde.”
Vader Chassley sê Jesus verwag van ons om die volgende te doen: “To feed the hungry, give drink to the thirsty, clothe the naked, welcome the strarnger, heal the sick and visit the imprisoned.”
Hy sê dié inisiatief kom uit die Evangelie van Mattheus 25.
Vader Chassley het ’n beroep gedoen op mense om te help en bydraes vir dié mense te maak.
Kontak Levinia Fredericks by Kindersorg Oudtshoorn by 044 279 2837 of 071 491 1349 of kontak St. Simon’s Anglikaanse Kerk.
“Ons benodig toiletware, kos, klere, skoene, ensovoorts. Ons beplan om hierdie mense ten minste een warm maaltyd per week te gee, en te bedien met die Woord op ’n Woensdagaand, want ons het gesien dat hulle nie geld verwag nie, maar omgee, liefde, iets om te eet en klere om hulle warm te hou. Laat ons die Hande van Hoop wees vir die kantlynmense van God.”