Groot groep neem deel aan optog teen vroue- en kindergeweld

Inwoners wat Dinsdagmiddag deelgeneem het aan ’n optog teen vroue- en kindergeweld.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
’N Memorandum is Dinsdagmiddag aan die hooflanddros van Oudtshoorn, Jaco Lamprechts, oorhandig waarin gevra word dat die hof nie borgskap aan vermeende seksuele oortreders en moordenaars moet toestaan nie, en diegene wat vonnisse uitdien, nie op parool vrygelaat moet word nie.

’n Groot groep inwoners van Oudts­hoorn het onder die vaandel van die South Cape Development & Rehabilitation Centre, Calitzdorp, aan die protesoptog na die Oudtshoorn Landdoshof deelgeneem om hul misnoeë uit te spreek teenoor geweld teen vroue en kinders,

Die groep, meerendeels vroue, sê in die memorandum die gemeenskap wil met die optog wys dat hulle bewus is van die vlaag van moorde en verkragting van vroue en kinders die afgelope tyd in die land en dat Oudtshoorn geen uitsondering is nie.

“Ons moes oor die afgelope paar jaar in skok toekyk en hoor van hoe baie van ons vroue vermoor en verkrag word. Genoeg is genoeg. Ons praat vandag namens al die vroue wat reeds gesterf het as gevolg van geweld. Die polisie faal ons vroue,” lui die memorandum.

Die burgemeester, Colan Sylvester, wat tans met verpligte verlof is, het in sy toespraak buite die hof gesê die tyd van stilbly is verby. Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om uit te praat wanneer hulle weet van die dade wat mans pleeg.

“Ons moet weer ons strate terugneem en buurtwagte en straatkomitees op die been bring. Vandag is dit my kind en more joune wat verkrag of vermoor word. Ons leef in ’n vakuum. Laat ons opstaan teen die geweld teen ons vroue en kinders.”

Ds Andre Boezak van die Verenigende Gereformeerde Kerk het gesê mense weet dikwels wie die verkragters en moordenaars is, maar kyk eenkant toe. Hy het sy teleurstelling uitgespreek oor die min mans wat aan die optog deelgeneem het.

In die memorandum vra die gemeenskap onder andere dat die howe nie borgtog aan seksuele oortreders en moordenaars toestaan nie, en nie op parool vrygelaat moet word nie, omdat dit dikwels dieselfde misdadigers is wat weer kom moor en vroue en kinders verkrag.

Hulle eis ook dat die doodstraf weer teruggebring moet word.

Die organiseerder van die optog, Hein Coetzee, het ’n beroep op die polisie gedoen om nie klagtes van gesinsgeweld te ignoreer nie omdat dit dieselfde klaagsters is wat ’n paar maande later verkrag en vermoor word.”

Volgens hom moet die memorandum gesien word as ’n noodkreet teen geweld teenoor vroue en kinders.
“Die gemeenskap het genoeg gehad van die geweld teen vroue en kinders wat ons dorp teister. Dis tyd dat ons ons woonbuurte, strate en gemeenskappe terugvat. ”