
Gemeentelede van die Weyers Memorial United Congregational Kerk begin met hul optog by Headlines Restaurant waar die Independente Kerk sy deure in Desember 1971 moes sluit.
Die gemeente van die Weyers Memorial United Congregational Kerk het Saterdag ’n optog van die huidige Headlines Restaurant op die hoek van Baron van Reede- en St Johnstraat gehou – die plek waar die destydse Independente Kerk se deure in Desember 1971 as gevolg van die Groepsgebiedewet gesluit is.
Volgens David Jullies, ere-diaken van Weyers Memorial, is die optog gehou om saam te val met die kerk se 32 ste bestaansjaar en die 50ste bestaansjaar van UCCSA (United Congregational Church of Southern Africa) wat in Oktober in Durban gevier sal word. Dit is ook gehou om hulde te bring aan die bouers van die Independente Kerk wat destyds ook bekend gestaan het as die Queenstraat-kerk.
Die kerk het volgens Jullies ontstaan as buitepos van die Dysselsdorp-Kerk, ’n sendingstasie van die Pacaltsdorp-gemeente onder leiding van die Londense Sendinggenootskap (1836). Die Oudtshoorn Independente Kerk is in 1849 onder leiding van eerw BE Anderson voltooi en het later ’n skool ingesluit.
Die gemeente het vinnig gegroei en in 1855 het die gemeente sy verbintenis met die Londense Sendinggenootskap verbreek. Gedurende 1872 en 1873 is ’n galery in die kerk aangebring om 1 200 lidmate te huisves en in 1883 het die gemeente by die Congregational Union of South Africa (CUSA) aangesluit.
Na ’n kerktwis in 1898 met die stigting van die Tempeliere Vereniging word die Vrye Evangeliese Kerk gestig, vandag die Verenigende Gereformeerde Kerk.
’n Tweede gemeentetwis het in 1927 gelei tot die stigting van die Volkskerk van Afrika op 10 en 11 Maart 1927.
Volgens Jullies was die Independente Kerk bevoorreg om twee konferensies van die genootskap in 1930 en 1993 te huisves, maar moes in Oktober 1967 afstand doen van die naam met die stigting van die United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA).
Die Weyers Memorial United Congregational Kerk is na nog ’n skeuring in die Oudtshoorn Congregational-gemeente op 4 Februarie 1986 gestig nadat ’n groot groep diakens in November 1985 geskors is.
Die eerste kerkdienste is in die MOTH-saal (vandag Oudtshoorn Ford) in Voortrekkerweg gehou totdat die gemeente die ou ongebruikte slagpale van die Oudtshoorn Munisipaliteit bekom en dit in ’n kerkgebou omskep het.
Die gemeente het in September 2007 volwaardige kerkstatus van UCCSA ontvang.
• Tydens Sondag 5 Maart se 31 ste jaarfeesdiens van die kerk was ds Allistair Arends, algemene sekretaris van UCCSA, die feesprediker. (Berig deur Garnett Wicomb)