Neem boerdery reeds a 17-jarige oor

Wynand Fourie (86) en sy vrou Christina (78). Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
DIE plaas Paardebond waar hy geboer het sedert hy 15 jaar oud was, was sy lewe, vertel Carina Fourie van Oudtshoorn oor haar pa, Wynand (86), wat verlede Vrydag (21 Julie) oorlede is.
Hy is in Mei vanjaar met blaaskanker gediagnoseer.
Carina vertel haar oupa, Kerneels, het haar pa gevra om net nadat hy graad 10 aan die Hoër Landbouskool Oakdale voltooi het, plaas toe te kom en saam met hom te kom boer.
Twee jaar daarna is haar oupa oorlede en moes haar pa, toe nog net 17 jaar oud, die verantwoordelikheid van die boerdery oorneem.
Hy het tot vier jaar gelede nog geboer, waarna hy en sy vrou, Christina, dorp toe getrek het.
Sy oudste seun, Cornél, boer tans op Paardebond.
Fourie is verlede Vrydag in die Caves Aftreeoord oorlede waar hy die laaste aantal dae van sy lewe versorg is.
Hy word oorleef deur Christina, vier kinders – Cornél, Nantie, Christie en Carina – en nege kleinkinders.
Fourie se troosdiens is Saterdagmiddag om 14:30 vanuit die NG Kerk Volmoed.