

Bo: So het die omgewing voor die NA Smit Swembad op Oudtshoorn gelyk voordat AfriForum Saterdag ingespring het om die gebied op te ruim en te verfraai. Heelbo: Droogtebestande spekbome wat geplant is.
Onder: Van AfriForum Oudtshoorn se bestuurslede saam met twee raadslede wat kom besoek aflê het. Van links is Andrew Kuhn (AfriForum), raadslid George Kersop, Heinrich Bosman en Johan Conradie (AfriForum) en raadslid Johan Fourie.

DIE sypaadjies en gebied voor die NA Smit Swembad op Oudtshoorn spog ná Saterdag met ’n hele nuwe voorkoms nadat AfriForum Oudtshoorn dié dag daar ingespring en skoongemaak het as deel van AfriForum se Ons Dorp Projek.
Die NA Smit Swembad word jaarliks deur duisende swemmers en besoekers van ander dorpe en stede besoek tydens die jaarlikse swemseisoen wanneer talle swengalas by die swembad plaasvind.
Volgens Johan Conradie van AfriForum Oudtshoorn was die eerste indruk wat besoekers van die gebied buite die swembad gekry het, een van onnetheid en agteruitgang.
“Aangesien die swemgalas geld na die dorp toe bring, het AfriForum Oudtshoorn gevoel dat dié skoonmaakprojek die voor-koms van die swembad sal verbeter.”
Daar is nie net by skoonmaak gehou nie, maar daar is ook verskeie spekbome geplant. Die nuwe plante is met emmers water natgelei soos deur die droogteregulasies op Oudtshoorn vereis word.
“AfriForum Oudtshoorn is daartoe verbind om in ’n latere stadium ook te help om die tuin by die swembad te verfraai deur droogtebestande plante te plant wat altyd mooi sal vertoon.
“Dié skoonmaakprojek sal opgevolg word met ander skoonmaak-, opknappings- en verfraaiingsaksies,” sê Conradie.
“AfriForum Oudtshoorn nooi alle AfriForum-lede om volgende keer te kom hand bysit sodat ons ons dorp kan help verbeter.”
Tydens die skoonmaakaksie het raadslede George Kersop en Johan Fourie die flukse span besoek en bedank vir hul diens.