OUDTSHOORNIETE en inwoners van die Klein Karoo wat bekommerd is oor of geïnteresseerd is in veranderinge wat tans by die CP Nel Museum aan die gang is, het op Woensdag 31 Maart, tydens ’n openbare vergadering in die Rembrandtsaal hul insette gelewer.
Die museum se bestuur het reeds in Desember verlede jaar aangekondig dat die museum ’n projek geloods het wat beoog om die huidige volstruisuitstalling uit te brei, en ook om die geskiedenis van elke gemeenskap op Oudtshoorn in te sluit as òf ’n aanvullende, òf ’n nuwe uitstalling. Daarom is ’n reeks openbare vergaderings sedert Maart aangebied om die gemeenskap hierby betrokke te kry.
Hoewel meeste inwoners by die vergadering in die Rembrandtsaal bekommerd was dat die huidige Volstruissaal onherkenbaar verander sal word, of selfs uit die museum verwyder sal word, was ander bekommerd dat die volle geskiedenis van Oudtshoorn se mense nie reg oorgedra sal word nie.
By die vergadering het die museumbestuurder Moses Mthethwa, tesame met ’n verteenwoordiger van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, inwoners verseker dat alles moontlik gedoen word om nie die huidige Volstruissaal te “vernietig” soos sommige inwoners se indruk was nie, en dat Oudtshoorn se mense prominent verteenwoordig sal word met bykomende uitstallings.
Volgens Mthethwa is daar ’n leemte in die sosiale geskiedenis van die volstruis-uitstalling.
“Die uitstalling moet nie net handel oor die volstruisbedryf en die dier self nie, maar oor die mense wat daarmee betrokke was oor die jare heen. Ons gaan slegs inligitng byvoeg sodat besoekers die volle prentjie van Oudtshoorn se geskie-denis sal kry,” het hy gesê.
Verder sal ’n bykomende uitstalling, wat moontlik in die NA Smit-kamer ingerig sal word, handel oor Oudtshoorn se geskiedenis van 1900 tot die 1990’s.
Die uitstalling sal kyk na wat op Oudtshoorn tydens hierdie tydperk gebeur het, watter wette bestaan en toegepas is, en hoe hierdie wette oor die jare heen verander het. Hoe hierdie tydperk die gemeenskap beïnvloed het, sal ook uitgebeeld word.
Daar is nog net twee openbare vergaderings in die proses vir publieke deelname oor, op 18 en 25 April. Hierdie vergaderings sal albei om 15:00 by onderskeidelik die Welbedacht Kerksaal en Volmoed Primêre Skool plaasvind. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Volstruiskamer veilig, met dieper terugblik na verlede
’n Groep geïnteresseerde Oudtshoorniete by die openbare vergadering by die CP Nel Museum. Foto onder: Hazel Jonker, ’n bekende in Oudtshoorn geskiedeniskringe. Foto’s: Stefan Skapie Goosen