Die opvoeders van Eljada-Kairos Skool se outisme-eenheid is van links Sandy Delport (assistent), Mari-Lu Roller (hoof-opvoeder), Stephnie Carolus (opvoeder), Lizelle Tarentaal (assistent), Celeste Engelbrecht (opvoeder), en Thea Erasmus, assistent.
DIE Eljada-Kairos Skool het met groot vreugde Dinsdagaand (14 April) hul outisme-eenheid aan die Oudtshoorngemeenskap bekend gestel, en die versekering gegee dat dié eenheid ingerig is om die gemeenskap by te staan en te dien.
Al het die skool reeds voorheen drie klaskamers gehad wat kinders met outisme onderrig het, was dié klaskamers regoor die skool versprei en het dit die situasie bemoeilik, maar nou is daar ’n splinternuwe gebou opgerig en ingerig, met drie klaskamers wat almal bymekaar is.
Volgens Mari-Lu Roller, hoof-opvoeder in die outisme-eenheid, het elkeen van hierdie klaskamers interaktiewe “witborde”, het elke klaskamer sy eie “quiet room” of stiltekamer waar ’n kind wat moontlik emosioneel raak kan afkoel en kalmeer, en is daar ’n volledige badkamer met drie toilette en een met toegang vir leerders in rolstoele.
Daar is ook een ekstra klas wat gebruik sal word om vir die 21 kinders wat gaan baat vind by die eenheid lewensvaardighede aan te leer. Boonop is daar ’n groot speelterrein waarvoor die skool volgens Roller nog baie vooruitsigte het.
“Ons wil met vanaand se samekoms nie net die nuwe gebou bekendstel nie, maar ons wil hê die dorp moet hiermee weet die eenheid is nou hier, en dit is vir óns kinders. April is juis bewusmakingsmaand vir outisme, en ons wil die aanvaarding van hierdie kinders in ons gemeenskap hiermee bemoedig,” het Roller gesê.
’n Emosionele Roller het outisme kortliks as volg verduidelik: “Die leerders wat aan outisme ly, is leerders wat sosiaal sukkel en nie doeltreffend kan kommunikeer nie. Hier word hulle aanvaar soos hulle is.”
Die bou van die eenheid is deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement moontlik gemaak. Die geleentheid is bygewoon deur Oudtshoorniete uit alle oorde, ouers van die skool, raadslid Johan Fourie namens die Oudtshoorn Munisipaliteit, en Eleanore Bouw-Spies, DA-kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn wat die skool voor die Covid-19-pandemie “aangeneem” het. (Deur Stefan Skapie Goosen)
