Lugreëlaars wat teen die voorste fassade van die sandsteentronk in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn geïnstalleer is, is ’n voorbeeld hoe moderne toebehore afbreek kan doen aan ’n historiese gebou.
DAAR is min dinge wat ’n historiese huis of gebou in die Klein Karoo so kan mismaak as ’n geyser, satellietskottels of lugreëlaars wat so geïnstalleer word dat dit die aansig van die huis bederf.
Voorbeelde van sulke installasies is ongelukkig ook in die sentrale dorpsgebied van Oudtshoorn sigbaar.
Die historiese middedorp van Oudtshoorn is ryk aan die tipiese (sandsteen)-huise wat Engelssprekendes cottages noem en wat verafrikaans is na kothuis. Die meeste van die huise is aangepas by hedendaagse behoeftes maar in die proses is dié kothuise se ouwêreldse styl deur moderne toebehore bederf.
Volgens Hilda Boshoff van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) is dit veral belangrik om die voorkant van ’n ouer huis of gebou te respekteer en toebehore soos geysers, lugreëlaars en satelietskottels waar moontlik uit sig te plaas. “Dit sou byvoorbeeld by die sandsteentronk in Baron van Reedestraat die moeite werd gewees het om ’n geskikter plek as die voorste fassade te vind om twee lugreëlaars te installeer,” sê sy.
Die voorkant van die kothuise word ook mismaak deur byvoorbeeld ’n ultramoderne deur of hek wat nie by die huis se styl pas nie, ’n hoë baksteenmuur wat die voorkant van ’n huis verberg of rye satellietskottels. HOE beskik oor verskeie foto’s van sulke huise op Oudtshoorn waar veranderings of nuwe toebehore die vooraansig van die huis bederf en die waarde waarskynlik ook daarom verminder.
Enigiemand met vrae oor veranderings of aanbouings aan ouer huise, kan HOE kontak vir gratis raad. HOE vergader twee keer per maand met die Oudtshoorn Munisipaliteit se bou-afdeling. Kontak Felicity Prins, sekretaresse van Johan Smit (argitek en voorsitter van HOE) by 044 272 2680.