Twee botsings kort na mekaar

Die bestuurder van ’n Isuzu bakkie word Maandag uit die voertuig gehaal na ’n botsing met ’n minibustaxi in Voortrekkerweg, Oudts­hoorn. Foto Angelique Erasmus

’n 10-jarige kind word Maandag in Petunialaan behandel nadat hy deur ’n Opel raakgery is. Volgens oogetuies het die kind oor die straat gehardloop na ’n voorval aan die oorkant van die pad. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
VOORTREKKERWEG op Oudtshoorn se een baan was Maandag tydelik gesluit nadat ’n Isuzu- bakkie omstreeks 14:58 van agter teen ’n Quantum-minibustaxi gebots het.

Die bestuurder van die taxi het op die toneel vertel dat hy gestop het om in Oxfordstraat af te draai toe hy voel hoe die bakkie teen hom vasgery het.

Die slag het die taxi in die teenoorgestelde rig­ting tot stilstand gebring.

Die bestuurder van die bakkie, Juan Steyn, is deur paramedici uit die voertuig gehaal om­dat hy oor nekpyn gekla het. Hy is per ambulans na die hospitaal geneem, maar was Woensdag weer terug by die werk, hoewel sy lyf nog seer was.

Na wat vasgestel kon word, is albei bestuurders net lig beseer.

Volgens sers Gret­chen Michaels van die Oudtshoorn Polisie word geen saak ondersoek nie.
In ’n ander voorval om 14:30 dieselfde dag is ’n tienjarige seun in Petunialaan in Bridgton, Oudtshoorn deur ’n silwer Opel Zafira raakgery toe hy oor die pad gehardloop het na ’n voorval waar ’n 14-jarige deur ’n ander kind met ’n sker gesteek is.

Die seun wat raakgery is, is per ambulans hospitaal toe geneem. Hy het slegs ligte beserings opgedoen.
Ooggetuies op die toneel het aan Die Hoorn vertel dat hulle 30 minute op ’n ambulans moes wag.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word ’n klagte van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.