Splinternuwe RAV4 – spog met talle verbeterings!

Selfs ’n paar volstruisdames van die Oudtshoorn-omgewing het nader gestaan om die nuwe Toyota RAV4 wat nou by Klein Karoo Toyota beskikbaar is, te kom besigtig. Foto: Schalk le Roux

MEER krag, beter brandstofverbruik en verbeterde ryvermoë op ruwe grondpaaie en sanderige paaie, is enkele van die verbeterings wat die nuwe Toyota RAV4 bevat vergeleke met sy voorganger.

Die nuwe RAV4 is ’n voortsetting van Toyota se strewe om avontuur, styl en gerief in een voertuig te vermeng.

Die 2019 RAV4 het ook algemene verbeterde padhouvermoë en ’n soliede ge-voel danksy Toyota se “nuwe globale argitektuur-filosofie”. Dit is verkry deurdat die nuweling 5 mm laer as die vorige een is, maar nogtans 12 mm meer grondvryhoogte het. Dit is ook 5 mm korter ondanks die feit dat die voor- en agteras 30mm verder van mekaar geplaas is. Voorts is dit 10 mm breër.

Die nuwe RAV 4 is in vyf modelle beskikbaar, naamlik die 2.0 GX 2WD, die 2.0 GX CVT 2WD, die 2.0 GX-R CVT AWD, die 2.0 VX CVT 2WD en die 2.5 VX AT AWD.

Vier modelle het ’n 2-liter enjin wat 127 kW krag teen 6600 r/min lewer teen- oor die 107 kW van sy voorganger. Dit lewer 203 Nm wringkrag tussen 4400 en 4800 r/min. Die nuwe RAV 2.5 lewer 152 kW teen 6600 r/min en 243 Nm tussen 4000 en 5000 r/min. Dit spog gepas met ’n ontwerp wat dit ’n kragtiger en meer vaartbelynde voorkoms gee.

Die brandstofverbruik van die 2.0-model is volgens Toyota 6,8 liter/100 km en die van die 2.5-model 7,3 liter/100 km. Die CO2-uitlatings is onderskeidelik laer as 147g/km en 166 g/km. Albei die enjins lewer wêreldklas verbrandingsdoeltreffendheid deur die nuwe VVT-iE (Variable Valve Timing-intelligent)-stelsel.

Die nuwe RAV spog ook met baie nu-we luukshede en veiligheidskenmerke wat die volgende inlsuit:

• Adaptive Cruise Control: Met dié verstelling kan jy nie net die RAV beheer om ’n bepaalde snelheid te ry nie, maar ook om vanself nie nader as ’n bepaalde af­stand van ’n stadiger voertuig voor jou te beweeg nie. Sodra die flikkerlig egter aangesit word om die voertuig voor jou verby te steek, kan jy nader beweeg en verbysteek.

• Line Departure Assist: Dié verstelling help die bestuurder om die RAV links van die soliede sperstreep in die middel van die pad te hou.

• Die RAV het vier kameras, een voor, een agter en een aan elke kant om te verhinder dat jy teen iets vasry.

• Electrochromatic truspieel wat dit self donkerder maak as daar skerp ligte van agter af daarop val.
Die nuwe RAV se binneruim is baie luuks met ’n gehalte klankstelsel en ’n 7dm raakskerm. Danksy Bluetooth kan jy jou selfoon se GPS op dié skerm laat vertoon wat baie gerieflik vir navigering is.

Voorts het die VX-modelle leersitplek-ke en verhitte sitplekke voor.

Vir meer inligting en ’n toetsrit kan belangstellendes Klein Karoo Toyota in Hoogstraat, Oudtshoorn, besoek.