VOLGENS Hugo van der Berg, een van die eienaars van die Lotz-huis op Oudtshoorn, was hul plan van aksie tydens die restourasie van die huis om alles skoon te maak en reg te maak en nie aan dié historiese huis te verander nie. Die oorspronklike effens skewe deurkosyne en die houthortjies voor die vensters is byvoorbeeld net so behou.
Daar is ook slim planne gemaak om by die oorspronklike voorkoms van die huis te bly. So is die oorspronklike geelhoutplanke van die plafon wat geverf was, net omgedraai sodat die hout weer sigbaar is. En daar is gesoek tot koperdeurknoppe gekry is soos wat in ou huise gevind is.
Aandag aan detail om in te pas by die wyse waarop huise twee eeue gelede gebou is, maak dié restourasie besonders. Met die bou van die heining om die huis is elke paaltjie bo-op die muur byvoorbeeld individueel geswys – vakmanskap wat nie meer algemeen is vandag nie.
Hugo sê Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) het hulle bygestaan om die huis binne die regulasies van die Erfeniswet aangaande huise ouer as 60 jaar te kon restoureer.
Hy beoog om die huis amptelik te vernoem na die bekende Jan Lotz en ook ’n borsbeeld van Lotz wat reeds in sy besit is, by die huis op te rig.
Die huis word as kantoor uitverhuur, met nog kantore wat agter die huis gebou gaan word en ook ’n woonontwikkeling op ’n laer vlak
Geskiedenis van die huis
Erf 428 in Koninginstraat op Oudtshoorn (vandag erf 778) waarop die huis gebou is, se eerste eienaars was JC Schoeman (gebore 1814) en die ander Schoemans, stiefkinders van CP Rademeyer.
Volgens Hilda Boshoff, kenner van Oudtshoorn se geskiedenis, is die huis in die 1800’s waarskynlik deur JC Schoeman gebou. Hy het Oudtshoorn in Augustus 1875 verlaat en in September 1875 het die erf die eiendom geword van George Mason Edmeades, die oudste van vyf broers. Hy het byna die hele Oudtshoorn se erwe besit, maar alles verloor na die eerste vere-ineenstorting. Hierna het die erf aan verskeie bekende Oudtshoorniete behoort, onder meer die skatryk prokureur James Alexander Foster wat Foster’s Manor in Voortrekkerweg tussen 1905 tot 1916 besit het.
Die legendariese Jan Lotz
Jan Lotz was met sy dood op 92-jarige ouderdom op 17 Junie 2014 lewenslange erepresident van die Oudtshoorn Rugbyklub en een van die bekendste inwoners van Oudtshoorn.
Hy het op Prins Albert grootgeword en later as gesondheidinspekteur op Beaufort-Wes gewerk. Hy het op 4 Julie 1950 as speler by die Oudtshoorn Rugbyklub aangesluit en was 64 jaar lank betrokke by die klub. Hy was onderkaptein van die SWD teen die Wallabies in 1953 en kaptein teen die Britse Leeus van 1955. Hy was van 1960 tot 1977 die afrigter van die Oudtshoorn Rugbyklub toe die klub se eerste span die Groot Uitdaagbeker van die SWD elf keer gewen het. Hy was ook bestuurslid van die SWD-rugbyunie vanaf 1963 tot 1988.
• Dankie aan Hugo van der Berg, Hilda Boshoff en Johan Smit vir hul hulp met inligting oor die huis en sy geskiedenis.
(Deur Liesel le Roux)