Die NG Gemeente Oudtshoorn – Wes het op 10 Desember 1948 van die Moederkerk op Oudts-hoorn afgestig. Aanvanklik is kerkdienste in ’n klein saaltjie gehou, tot die inwyding van die huidige kerkgebou op 2 Maart 1952. In die daaropvolgende jare het drie dogterskerke weer van Wes afgestig – nl. Zeelandsnek (1966, nou ingelyf by Park), Welgeluk (1974) en Park (1982).
As ons oor die afgelope 75 jaar terugkyk, is dit eerstens met diepe dankbaarheid teenoor die Here vir sy genade en liefde. Hy het Oudtshoorn, en ook ons gemeente, deur baie krisisse gedra en ondersteun.
Daar was landswye ekonomiese insinkings, ook droogtes en volstruisgriep, met die gepaardgaande ekonomiese impak op die hele dorp. Die covid-pandemie lê vars in ons geheue. Deur die inper-kingstyd, toe ons geen eredienste kon hou nie, het ons nogtans elke Sondag om 09:00 die kerkklok gelui, om almal daaraan te herinner dat ons ’n getroue Here, ’n kerk en mede-gelowiges het.
Op ’n ligter noot: tydens covid, toe daar so min verkeer in die strate was, en die kerkgebou ook nie gebruik is nie, het daar ’n bruin beer uit Noorweë in ons kerktoring kom bly. Sy naam is Bernie, en hy bly nog altyd daar. Hy neem ons klein kindertjies Sondae veilig na die kinderkerk in die kerksaal.
As ons aan ons lidmate dink, dink ons met dankbaarheid aan die talle besonderse lidmate wat oor die jare aan die gemeente verbonde was, wat die gemeente, mekaar en die Oudtshoorn – gemeenskap met hulle gawes gedien het, en saam gewerk het aan die uitbreiding van die Koninkryk van God.
As ons vorentoe kyk, is dit ons gebed dat die gemeente steeds diensbaar sal wees om mense te help om ons Here, Jesus Christus, beter te leer ken. Dat ons – onder die leiding van die Heilige Gees – mekaar kan opbou in liefde, en mekaar kan aan-spoor om Jesus ons Here te volg.
Ons reik ook graag ’n hand van vriendskap uit na alle Christelike Kerke in Oudtshoorn. Ons bid vir Christus se hele kerk uit alle denominasies, en wil saam met julle as deel van die Liggaam van Christus werk en bou aan die Koninkryk van ons God in Oudtshoorn.
Die twee predikante van die NG Kerk Oudtshoorn-Wes gemeente is André Orffer en Jan Marais. Navrae: 044 272 3414. (Deur ds Jan Marais)
