
Dat daar ’n oplewing in die kultuurgeskeidenis van Oudtshoorn is, is duidelik danksy instansies soos HOE (Heritage Oudtshoorn Erfenis), Vriende van die CP Nel-museum en die Arbeidsgenotkomitee.
Tussen hierdie drie organisasies word daar opwindende dinge beplan vir inwoners wat in die dorp se geskidenis belangstel.
Die Le Roux Dorpshuis is Donderdagaand, 19 Junie, die bymekaarkomplek vir ’n heerlike aand van stories, sjerrie en sop. Die aand word deur HOE aangebied en alle kaartjieverkope word aangewend vir die Vriende van die CP Nel Museum-fonds wat ’n reusebydrae maak tot die herstelproses van die twee museums.
Drie van Oudtshoorn se bekende geskiedenis- en museumkenners gaan gaste met staaltjies en feite oor dié huis trakteer. Alta le Roux, Hazel Jonker en Blackie Badenhorst het tussen hulle ʼn skatkis van stories oor Oudtshoorn se erfenis en gaan elkeen oor verskillende aspekte en mense van die Le Roux-huis gesels.
Die aand word in die O’Flinn’s-gebou agter die dorpshuis aangebied wat tot onlangs as ʼn stoorplek gebruik was.
Danksy die Vriende van die CP Nel Museum en Blackie is dit tans ’n uitstalruimte en ideale venue vir kleiner geleenthede.
Sitplekke is beperk en dit is belangrik dat kaartjie vooraf bespreek word. Die koste beloop slegs R50 per persoon en kan by Christo Smit by 072 833 7723 bespreek word. (HANNES VISSER)