Colan Sylvester, OGI-raadslid van Oudtshoorn het Woensdagmiddag, 4 Junie, aangekondig dat hy met onmiddelike effek as raadslid bedank.
Hy het die aankondiging op sy Facebookblad gemaak. Uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het Donderdagoggend bevestig dat hy deur die speaker van die raad ingelig is oor Sylvester se bedanking.
Sylvester is sedert 2016 by plaaslike regering betrokke nadat hy as DA burgemeester aangewys is.
Hy het in 2020 uit die DA bedank en is in 2021 as proporsionele raadslid van OGI (Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief) aangewys.
Aangesien Sylvester ’n proporsionele raadslid is en nie ’n verkose wyksraadslid nie, moet sy party se bestuur so gou as doenlik ’n opvolger aanwys en die OVK in kennis stel.
Sylvester het Donderdagoggend aan Die Hoorn gesê hierdie is die moeilikste besluit wat hy vanjaar nog moes maak, maar dat sy gesondheid voorrang kry. In sy plasing op sosiale media sê hy die volgende:
“Geagte Inwoners van Oudtshoorn,
Met ’n mengsel van diep dankbaarheid en swaar gemoed kondig ek my besluit aan om uit my posisie as Raadslid van die Oudtshoorn Munisipaliteit te bedank, met ingang van 4 Junie 2025.
Hierdie besluit is geneem na deeglike oorweging van my persoonlike welstand.”
“Weens gesondheidsredes moet ek hierdie tyd gebruik om op my herstel te fokus en meer tyd saam met my gesin deur te bring.”
“Om die mense van Oudtshoorn te dien was ’n onmeetlike voorreg en ’n eer wat ek altyd sal koester. Ek is ongelooflik dankbaar vir die vertroue wat u in my gestel het.”
“Alhoewel ek nie meer in ’n amptelike hoedanigheid sal dien nie, bly my toewyding aan die vooruitgang en welstand van Oudtshoorn onwrikbaar.”
“Dankie vir u begrip, dat u my privaatheid respekteer, en onwrikbare ondersteuning.” Hoogagtend” – Colan Sylvester. (HANNES VISSER)
