Klipgeboue, sportterreine…

Bo en onder: Verskeie historiese bakens in Kerkstraat is deur die jare deur die sakeman en kunstenaar van Oudtshoorn, Kobus Spies, in olie op doek verewig. Onder is die bekende hangbrug oor die Grobbelaarsrivier wat tussen 1913 en 1914 gebou is. Bo is onder meer die Standard Bank-gebou wat in 1904 gebou is. Spies is ook die eienaar van die be­kende Prince Vintcent Gebou in Kerkstraat foto heel onder.

Prince Vintcent Gebou se merkwaardige geskiedenis sedert 1914
Die Prince Vintcent Gebou (met die “t” in die middel van die “Vintcent’) toe dit in 1947 spesiaal versier is vir die besoek van die Britse koninggesin aan Oudtshoorn. Die gebou is in 1914 tydens die laaste jare van die volstruisbloeitydperk voltooi. Dit was dié plek waar handel gedryf is. Hier het boere implemente kom koop en volstruisvere gelewer wat met ossewaens na Mosselbaai geneem en uitgevoer is. Hier is boumateriaal bestel vir huise en kerke – vanaf hout tot items soos gedrukte plafonne wat uit oorsese katalogusse gekies is. In later jare het die “departments” gevolg en het die gebou bestaan uit onder meer ’n “ladies department”, “drapery”, “men’s department”, “electrical department” en “grocery department”. Winkeliers, veral ook die talle Joodse handelaars, kon by die groothandelsafdeling op die boonste verdieping voorraad koop. ’n Supermark wat in die 1970’s geopen is, was nie suksesvol nie.

KERKSTRAAT strek vir bykans 4 km vanaf die westekant van Oudtshoorn na die ooste. Dié diverse straat loop deur ’n deel van Oudtshoorn se nywerheidsgebied, verby die brandweer, die Kerkstraat-swembad, deur die middedorp, verby die Oudts­hoorn Aftreeoord, sportterreine, gastehuise, die weermagbasis, hospitale en deur woonbuurte.

Oudtshoorn-Noord en Wesbank word deur die straat verbind, met die Grobbelaarsrivier as die baken wat die twee gebiede van mekaar skei.

Na swaar reën – iets wat inwoners van die dorp baie lank laas gesien het – loop die rivier oor die laagwaterbrug en kan voertuie nie daar die rivier kruis nie.

By die rivier is een van die straat se be­kendste bakens, die hangbrug wat tussen 1913 en 1914 gebou is en ’n nasionale gedenkwaardigheid is. Die brug is in 2018 opgeknap.

Onder die talle sportgeriewe langs Kerkstraat is die Wesbank Tennisklub, die rolbalbaan en sportvelde van die Hoërskool Oudtshoorn.

Daar is ook verskeie kerke in die straat – die Jaami Masjid Moskee in Kerkstraat-Noord, die NG Moederkerk op die hoek met Hoogstraat en die Presbiteriaanse kerk op die hoek met Baron van Reedestraat.

Baie van Oudtshoorn se mooiste en oudste historiese sandsteenhuise en geboue kan ook in die straat gevind word.