Vermeende brandstigter terug op dorp

Sonja Louw verlaat die Oudtshoorn Landdroshof gister ná haar verskyning. Louw het die landdroshof opgewek en in ’n goeie stemming verlaat, en buite vir foto’s geposeer.
Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DIE vermeende brandstigter Sonja Louw (58) wat op drie klagtes van brandstigting en een van poging tot brandstigting by Karoopark op Oudtshoorn tereg staan, het gister weer in die Oudtshoorn Landroshof versoek dat haar woonadres verander moet word.

Louw se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het ’n aansoek gebring om haar borgvoorwaardes te wysig, met die verandering van haar woonadres.

Louw is op 18 Januarie op borg van R1 000 vrygelaat nadat sy ’n vaste adres van ’n vriendin in Volmoed kon verstrek waar sy gaan woon het.

Volgens hofstukke het daar intussen ’n probleem met dié verblyf opgeduik en hou dit verband met honde.

Dit was nie duidelik wat dit behels nie maar die probleem gaan blykbaar oor Louw se honde.
Landdros Roelf Konstabel het toe­gestem dat die adres van haar borg­voor­waardes kan verander.

Sy sal nou by ’n ander vriendin en die se dogtertjie in St Sa­viourstraat op Oudts­hoorn tuisgaan.

Die wysiging maak dit makliker vir Louw omdat dit nader is aan die polisiekantoor wanneer sy moet aanmeld en aan die hof wanneer sy moet voorkom.

Die saak teen haar is tot 12 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.

Inwoners van Karoopark Aftreeoord was weer in die hog tydens haar verskyning, maar is nie gevra om te getuig nie.

Louw het ook vroeër die maand van regsverteenwoordiger verander.