Interessante hospitaalgeskiedenis

Die hoeksteen van die Oudtshoorn Hospitaal. Foto verskaf deur dr Herman Kruger

Graag deel ek ’n stukkie geskiedenis en nuus rakende ons geliefde instansie! Ek het op die hoeksteen afgekom waar ek soggens elke dag my motorfiets parkeer. Dit is weggesteek in die skadu van ’n pragtige inheemse kei-appelboom langs ons buitepasiënte-afdeling.

Die steen is onthul deur Sir Nicolaas de Waal, eerste administrateur van die Kaapprovinsie op 3 Junie 1920. Dus net meer as 100 jaar gelede! Sy naam leef voort in De Waal Drive en in die geskiedenis van Kaapstad.

Die Royal South Western Fever Hospital, met heelwat prominente Joodse inwoners op sy raad, is amptelik in 1899 op Oudtshoorn geopen. Die hospitaal se meubels is deur hulle geskenk asook al die linne deur hulle vroue. Een Joodse lid het al die beddens (36!) verskaf.

“Koorshospitale” was daardie tyd op die Engelse konsep van isolasie-eenhede vir aansteeklike siektes, soos masels, pokke, witseerkeel, kinkhoes en tuberkulose, geskoei om die publiek te beskerm asook pasiëntsorg te verbeter. Ironies is dit presies wat in die huidige tyd weer gebeur met die Covid-19-pandemie. Ons personeel werk steeds onverpoos voort om baie mense se lewens te red en te beskerm in hierdie gesondheidskrisis! Dankie, kollegas!

  • Dr Herman Kruger (Huisarts, Oudtshoorn Hospitaal)
    • Bronne: picking up the tabb.wordpress.com (George Aschman writes of early Oudtshoorn); Wikipedia (Oudtshoorn)