Deur Stefan Skapie Goosen
DIE naatbouler Glenton Stuurman wat verlede jaar die eerste Oudtshoorniet geword het om vir die Protea-krieketspan gekies te word, is nou ook gekies vir Krieket Suid-Afrika se T20 Protea-span wat tussen 11 en 14 Februarie in drie wedstryde teen Pakistan in Lahore sal speel. Dié nuus is gister bekend gemaak.
Glenton is in November 2020 vir die Protea-span gekies wat teen Engeland en Sri-Lanka gespeel het, maar moes noodgedwonge onttrek weens ‘n besering. Na dié terugslag kry hy nou weer ‘n kans om internasionaal mee te ding.
Glenton, wat tans provinsiale krieket vir die Warriors in die Oos-Kaap speel, het op Oudtshoorn vir onder meer Harlequins en Union Stars klubkrieket gespeel, en ook vir die George Krieketklub voordat hy die Wes-Kaap verlaat het. Hy was sedert 2013 gereeld as naatbouler lid van die SWD senior span.