Virus keer nie Willemse-gesin

Stephanie Willemse, Sandi-Lindsey Powrie en Steven Willemse (regs) oorhandig geskenke en braaihoender aan Alzane Fortuin (middel) en sy pa, Abraham Fortuin van Swigelaarstraat. Foto: Garnett Wicomb

DIE Willemse-gesin van Swigelaarstraat, Bridgton, wat vir die afgelope drie jaar ’n Kersfees- straatpartytjie vir inwoners van die straat en die omgewing aangebied het, het nie toegelaat dat Covid-19 hulle verlede jaar verhoed het om goed te doen nie.

Volgens Steven Willemse moes hulle die straatpartytjie laat vaar, maar het hulle besluit om tog iets te eet vir seniors burgers van die straat en omgewing voor te berei en geskenkies aan kinders uit te deel.

Willemse sê hulle kon aan sowat 100 senior burgers ’n bakkie met gebraaide hoender, ’n roos­terbroodjie en slaai gee en dieselfde aantal geskenkies aan die jongspan uitdeel.

“Alhoewel ons almal verlede jaar noustrop getrek het, is ek dankbaar dat ons tog uit ons eie sakke iets vir ons naaste kon doen,” sê Willemse.

“Verlede jaar se tema van die straatpartytjie wat toe nie kon plaasvind nie, kom uit die Bybel wat lui: Laat die kindertjies na My toe kom.

“Kersfees is ’n tyd om te gee en daarom het ons weer gegee soos ons kan.”

Volgens Willemse is daar vir alles, en ook vir Covid-19, ’n tyd om te begin en ’n tyd om te eindig. “Ons hoop 2021 is ’n beter jaar en dat ons volgende jaar weer soos die afgelope drie jaar die straatpartytjie vir die inwoners van Swigelaarstraat en omgewing sal kan hou. Ons het groot hoop.” (Deur Garnett Wicomb)