Kannaland-speaker skuldig aan bedrog en dwarsboming

Regs: Werner Meshoa.

DIE speaker van die Kannaland Munisipaliteit, Werner Meshoa (Icosa), is Dinsdag in die Ladismith-streekhof skuldig bevind op klag­tes van bedrog en dwarsboming van die gereg.

Dit volg nadat Kannaland se munisipale bestuurder, Reynold Stevens, in 2018 klagtes teen Meshoa ingedien het op grond van ’n reis-eis wat hy vroeër daardie jaar ingedien het.

Meshoa sal op 29 Januarie gevonnis word.

Meshoa is sedert 4 November 2020 die speaker van die raad.

Hy is die dag tydens ’n spesiale raads­vergadering as speaker in die plek van Aletta Theron (DA) aan­gewys nadat die ANC en Icosa besluit het om saam te werk.

Die ANC en die DA het sedert die plaaslike verkiesings van 2016 en tot in daardie stadium die munispaliteit saam beheer.

Daar was reeds teen gister gerugte dat die ANC en DA in Kannaland dalk nou weer sal besluit om saam te werk. (Deur Liesel le Roux)