’N MAN met elf vorige veroordelings op sy rekord verskyn op 5 Februarie in die Oudtshoorn Landdroshof op aanklagte van huisbraak en roof met verswarende omstandighede.
Edwin Jonkers (27) word daarvan aangekla dat hy op 8 Mei 2020 by die besigheidsperseel van Cornelius Stols in Buysstraat, Bridgton ingebreek het en vir Azmacha Ladamo, ’n buitelandse burger, in 16de Laan met ’n panga en mes gedreig en van sy selfoon en R2 000 kontant beroof het.
Jonkers se aansoek om borgtog is vroeër die maand geweier.
Die ondersoekbeampte, ao Piet Hendricks, het borgtog teengestaan omdat Jonkers moeilik in die hande gekry word. Die polisie het sedert Julie verlede jaar na hom gesoek en hy het in November ’n vals naam aan die polisie verstrek en voorgegee dat hy in die hospitaal was, wat onwaar was. Hy beweer ook dat hy oor ’n vaste werk by die taxistaanplek beskik, maar navraag hieroor dui daarop dat dit onwaar is.
Vrese bestaan dat hy nie vir sy saak hof toe sal kom nie, het Hendricks getuig.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjhies, het in die lig van Hendricks se getuienis die hof gevra om borgtog te weier.
Landdros Marvin de Vos het in sy weiering van borgtog gesê Jonkers het nie oop kaarte met die hof gespeel nie en was verhoorafwagtend toe hy aangekeer is. “Volgens sy rekord is dit duidelik dat hy ’n geneigdheid het om misdaad te pleeg en getuienis dui daarop dat hy die regstelsel sal ondermyn.” (Deur Garnett Wicomb)