INWONERS van Kwalisingel in Ladismith het op 14 Januarie laatmiddag hul stoele saam in ’n kring in die straat uitgepak vir ’n gebedsessie teen die koronavirus.
Dit was volgens die inwoners ’n besluit wat vinnig geneem en uitgevoer is.
Juliette September, een van die inwoners, het ’n program opgestel en vir elke inwoner een laat kry, en Don Moen se lied, God will make a way, het die gewyde atmosfeer wat reeds geheers het, versterk.
Toe ’n donderbui begin dreig het om die gebedsessie te ontwrig, het Marie Januarie, ’n verpleegster, haar bure gewys op die woorde van die lied waarna hulle pas geluister het (God will make a way) en haar afdak by haar woning aangebied om die sessie voort te sit.
Kragtige gebede het die middag vanuit Kwalisingel uitgegaan vir Suid-Afrika en die res van die wêreld. Alle frontlinie-werkers asook ander mediese personeel en besluitnemers in die land is by die naam in gebed opgedra.
Hierna het elke inwoner ’n kers aangesteek as teken van hoop en die erkentenis dat lig die duisternis verdryf.
Die inwoners wat by tye hartseer was het besluit om die gebedsessie ’n gereelde instelling te maak. (Deur Deon Meyer)
Covid-19: inwoners van Kwalisingel in Ladismith bid saam teen virus
Inwoners van Kwalisingel in Ladismith tydens ’n bidsessie teen die koronavirus in hul straat. Foto: Deon Meyer