OU geboue vertel wonderlike stories. Vra maar vir enigeen van die groot groep inwoners van Oudtshoorn wat verlede Donderdag (17 Maart) ou geboue in Baron van Reede- en Kerkstraat besoek het tydens ’n informele wandeling wat gereël is deur Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE).
Met haar ongeëwenaarde kennis oor die geskiedenis van Oudtshoorn se ou geboue, het Hazel Gibson Jonker almal aan haar lippe laat hang oor die geskiedenis van die Oudtshoorn Presbeteriaanse Kerk (1921), die suksesvolle wamakersbesigheid van die Deas-broers met hul erf wat tot by die Grobbelaarsrivier gestrek het (gevestig in 1875), Klass & Co (1947), Walmer House – eens ’n losieshuis en waar die kantore van Coetzee en Van der Bergh nou is, en Tom se Meule.
Hierna het die argitek Johan Smit meer vertel oor die argitektuur van geboue soos Prince Vintcent (1887), die Poskantoor (1955) en die Standard Bank (1904) in Kerkstraat en die invloed van die tydperke waaruit hulle dateer op hul argitektuur. Die aand is afgesluit met besoeke aan Prince Vintcent en die Standard Bank waar oor moontlike opsies vir toekomstige ontwikkeling gesels is. (Deur Liesel le Roux)
Historiese wandeltoer ’n reis na vorige eeue
Regs: Hazel Jonker (regs) vertel meer oor die geskiedenis van Tom se Meule tydens verlede Donderdagaand se historiese aandwandeling.
Foto: Liesel le Roux