
Skaars drie dae nadat die Vriende van die CP Nel-museum hulle sop en sjerrie-aand by die Le Roux Dorpshuis bekendgemaak het, is al 50 beskikbare kaartjies opgeraap.
Die funksie is Donderdagaand 19 Junie in die O’Flinn’s-gebou by die dorpshuis aangebied. Drie van Oudtshoorn se kundiges oor erfenis en die dorp se geskiedenis, Hazel Jonker, Alta le Roux en Blackie Badenhorst, het met die gaste gesels.
Alta Le roux het oor die stamboom van die Le Roux’s aan wie die huis oorspronklik behoort het, uitgebrei en Hazel Jonker het staaltjies van Rose van Niekerk, die laaste eienaar en bewoner van die dorpshuis vertel.
Blackie Badenhorst, wat tans die kurator van die Dorpshuis is, het die gaste vermaak met staaltjies uit haar betrokkenheid by museums oor ʼn tydperk van meer as 50 jaar.
Volgens die Vriende van die CP Nel-museum was die aand so suksesvol dat hulle beslis nog sulke geleenthede sal aanbied. (HANNES VISSER)