
In ’n ooreenkoms tussen die Oudtshoorn munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van polisie oorsig en gemeenskapsveiligheid is 20 jongmense van die Groter Oudtsoorn die afgelope aantal maande as wetstoepassers of vredesbeamptes opgelei.
Die volle koste van die opleiding wat R1,45 miljoen beloop het, is deur die departement bewillig. Die doel van die projek is om die kapasiteit vir wetstoepassing in munisipaliteite te verbeter.
Vir Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van polisieoorsig en gemeenskapsveiligheid, is dit ’n prioriteit om veiliger gemeenskappe te verseker deur samewerking tussen wetstoepassingsowerhede op verskillende vlakke wat munisipale wetstoepassers insluit.
Sy het die uitpassering van die 20 lede Maandagaand 23 Junie, bygewoon, die nuwe lede bemoedig en hul sertifikate oorhandig.
Trotse ouers en familielede het ook die uitpassering van die 20 beamptes in die De Jagersportkompleks bygewoon.
Nadat die projek vroeër vanjaar geadverteer is, is 507 aansoeke ontvang waarvan 72 vir die volgende ronde van diagnostiese toetse en evaluering gekwalifiseer het. Uit hulle is ongeveer 30 vir die volgende rondte gekeur en 20 het die finale keuring geslaag.
Al 20 het die opleiding geslaag en het hulle sertifikate ontvang. Uit die groep is vyf van Toekomsrus, vier van Dyssesldorp, twee van Bongolethu en nege van Oudtshoorn.
Die drie kandidate wat die beste slaagsyfers met die opleiding behaal het, is Jenobia Muller (91%), Sinovuyo Vaaltyn (87%) en Ronaldo Manewick (87%).
Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, rdh. Johan Allers, het tydens die geleentheid gesê die nuwe vredesbamptes wat vir ’n tydperk van 12 maande aangestel is, sal ontplooi word om veiligheid in die dorp te bevorder.
Minister Marais het die groep gelukgewens en hulle daarop gewys dat hulle voortaan ’n groter rol in die gemeenskap gaan speel as bloot vredemakers en dat hulle ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap het en ’n voorbeeld moet stel wat veel wyer strek as die uniforms wat hulle dra. (HANNES VISSER)