Drezene Jonkerman (41) van Korhaanlaan in Bridgton, wat haar sewejarige seuntjie, Ashwin Jonkerman, verwurg het, is Maandag in die Oudtshoorn streekhof aan moord skuldig bevind en tronkstraf van 25 jaar opgelê. Sy het ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan.
Vyf jaar van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort vir ’n effektiewe vonnis van twintig jaar.
Jonkerman, het erken dat sy haar seuntjie die oggend van 11 Augustus 2024 in hul huis in Kor-haanlaan, verwurg het toe sy besig was om hom te was en glo sy pa in sy gesig gesien het. Sy het ook erken dat sy die oggend saam met vriende dwelms gerook het.
Nadat sy die kind verwurg het, het sy hom op sy bed neergelê en kerk toe gegaan. Met haar terugkeer het sy gesien dat hy dood is en haar bure geroep.
Streeklanddros Ntsoki Moni het dit aan Jonkerman gestel dat sy lewenslank tronk toe gestuur kan word maar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk.
“Vroue wat mans doodmaak het ’n bron van groot kommer in die Karoo geword,” het die landdros gesê. “En hier is dit nou ’n vrou wat ʼn kind vermoor het. Vroue moet afgeskrik word om nie net ’n skerp voorwerp te gryp en te steek nie.”
Volgens die vonnisooreenkoms kom Jonkerman eers na die uitdiening van 13 jaar en drie maande in aanmerking vir parool.
Voorts is sy onbevoeg bevind om met kinders te werk en aansoek moet doen om haar ander twee kinders te sien.
Hyron Goulding was die aanklaer terwyl Margareta Aucamp van die regshulpraad namens Jonkerman verskyn het. Ao Wilfred Apollis was die ondersoekbeampte. (GARNETT WICOMB)
Ma wat kind verwurg word 25 jaar gevonnis
