Oud en jonk het saam gestap om Prins Albert se gemeenskaplike erfenis te vier. Foto Marlene Malan
Deur Marlene Malan
ERFENISDAG is vanjaar op Prins Albert ’n naweek lank gevier.
Die meeste inwoners van die dorp het op die een of ander manier saamgetrek om ’n gemeenskaplike doelwit te vier – dit is die dorp se rykdom aan kulturele bedrywighede, sienswyses en talent.
Van die hoogtepunte die naweek was die Maanligmark Vrydagaand in die middedorp, ’n optog Saterdagoggend deur die strate, die #US4US-talentkonsert Saterdagaand in die nuwe openbare park in die woonbuurt Noordeinde, ’n kerkdiens Sondagoggend in dieselfde park, die Prins Albert Vastrappers wat die stof laat staan het, en die tuinklub wat hul Kaapse besoekers (die Kaapse Tuinbouverening) ingelig het oor die omgewing se plantegroei en klimaat.
Vroeg Saterdagoggend het leerders van verskeie skole saam ’n groep vroue van die dorp en verteenwoordigers van die Fransie Pienaar Museum vanaf Noordeinde tot in die middedorp gestap as simbool van die inwoners se gemeenskaplike doelwit van saamwerk en saamstaan. Strate is afgesper en die veelvuldige kleure van die optoggangers se klere en plakkate het die omgewing versier.
Onder leiding van een van Prins Albert se groot weldoeners, Ingrid Wolfaardt, en die sanger en klawerbordspeler Ving Chan het sangers, rymkletsers en ander musici Saterdagmiddag vanaf vyfuur byna 2 000 mense in die Noordeinde-park vermaak. Die talentvolles het maande lank geoefen en met mentors saamgewerk om dié aanbieding van kleur en klank te bring. Dit blyk dat dié konsert nou ’n jaarlikse instelling gaan word.
Die skrywer en digter Poem Mooney het Sondagoggend by die Christelike kerkdiens vertel dat Prins Albert, sy geboorteplek, ’n groot rol in sy lewe en skryfwerk speel. “My naelstring lê hier begrawe,” het Mooney gesê. Daarom beskou hy dié omgewing as ’n erflating “wat insette in my lewe gelewer het”. Mooney het vertel van oud-inwoners uit die tyd toe hy ’n kind was, wat hom help vorm het – onder andere Tant Lettie Wicomb, Oom Gerrie Botes en Tant Hannie April. “Dit was in die buurt wat toe Rooikamp geheet het.” Baie mense is uit dié buurt verskuif weens die apartheidsregime se groepsgebiedewet.
Dr Sue Dean, ’n botanikus wat al 30 jaar in Prins Albert woon, het aan die tuinklub en sy Kaapse besoekers gesê die omgewing beleef een van sy ergste droogtes in 50 jaar. “Elke vyftig tot honderd jaar tref so ’n droogte ons. Die afgelope drie jaar al gaan ons hieronder gebuk. Prins Albert lê nie in ’n winter- of somerreënvalgebied nie, maar in een waar dit dwarsdeur die jaar reën. Waar ons gewoonlik sowat 200 mm per jaar kry, is die gemiddelde die afgelope jaar minder as 88 mm. Tog pas die plantegroei aan en floreer plante soos die kruisbessie en ghwarriebos, “met spekbosheinings wat steeds een van die grootste aantreklikhede is”.