Kleiner eiendomme gee pas aan

Kleiner eiendomme in die Suid-Afrikaanse mark het vanjaar die pas aangegee.

Volgens Riaan Roos, die hoof van die ontwikkelingsmaatskappy MSP, sal dié tendens aanstaande jaar voortduur namate bekostigbaarheid vir voornemende kopers al hoe belangriker word. Bekostigbaarheid gaan die “kernwoord” van 2017 wees. Verkopers wat die regte prys vra, sal dus sukses behaal.

Dummy Text.

“Alles draai om bekostigbaarheid vir die potensiële koper, en ons almal moet waar moontlik ons sente omdraai.

“Dit is ’n duidelike aanduiding van die moeilike ekonomiese klimaat waarin die meeste Suid-Afrikaners hulle tans bevind,” verduidelik Roos in ’n verklaring.

“Daar is ’n baie sterk vraag na kleiner eiendomme (tussen 20 m² tot 80 m²) om te huur. Dit is in hierdie deel van die mark waar die eiendomsbeleggers tans breed glimlag omdat hul opbrengste besonders is.”

Roos sê dat kleiner eiendomme aan die een kant goeie kapitaalgroei toon en aan die ander kant ’n maandelikse huurinkomste genereer wat inflasie klop. Dit is die perfekte kombinasie waarvan eiendomsbeleggers droom.

“Ons voorsien dat hierdie tendens nog baie lank sal voortduur, want dit is ook in hierdie deel van die mark dat ’n reusegroep eerste kopers hul toetrede maak.”

Blik op die Wes-Kaap

Die Wes-Kaap is die Suid-Afrikaanse provinsie wat vanjaar baie beter as die ander in die eiendomsmark vaar, sê Roos.

“Die groei hier was bykans dubbeld so groot soos dié wat in baie ander metropole bereik is. Daar is verskeie faktore wat ’n mens hieraan kan koppel, maar dit is veral die groot migrasie van kopers van die binneland wat hierdie fenomenale groei bewerkstellig het.”

Hy meen dat diegene van buite wat in die Wes-Kaap eiendom koop, nie meer net mense is wat in dié provinsie wil kom aftree nie, maar ook hulle wat op ’n jonger ouderdom hierheen trek ter wille van onder meer goeie skole, universiteite en infrastruktuur asook die natuurskoon.

Volgens Roos sal die reusebelangstelling in eiendomme op veiligheidslandgoedere nog geruime tyd voortduur.