KAPS kry internasionale toekenning vir omgee

Colette Teale, KAPS-voorsitter. Foto verskaf

’N KLEIN KAROO-dierewelsynorganisasie is onlangs – in sy 20ste bestaansjaar – bekroon met ’n internasionale toekenning vir hul diens aan diere in die omgewing.

Die Karoo Animal Protection Society (KAPS) is met die Jeanne Marchig Animal Welfare Award 2020 bekroon deur die Marchig Animal Welfare Trust. Dié Skotse trust is in 1989 ge­stig deur Jeanne Marchig ter na­ge­dag­tenis van haar kunstenaar-man Gian­nino Marchig, en vanweë haar diep besorgdheid oor die natuur en diere.

KAPS het die toekenning gewen uit nominasies van regoor die wêreld “vir praktiese werk op die gebied van welsyn en die beskerming van diere, wat lei tot beduidende verbeterings vir diere nasionaal of internasionaal”.
Volgens Colette Teale, KAPS- voor­sitter, is KAPS ’n onafhanklike nie-winsgewende organisasie wat deur vrywilligers bedryf word.

“Ons werk op ’n mobiele basis en neem hulp hoofsaaklik na die townships en boerderygebiede, in en om die Swellendam Munisipaliteit en Kannaland Munisipaliteit.

“Ons gaan daagliks uit na die ge­meenskappe wat die meeste in nood is, waar verarmde, dikwels werklose diere-eienaars geen toegang tot veeartse het nie,” vertel sy.

Volgens Colette lewer KAPS diens­te vir allerhande troeteldiere en vee. Dit word gratis aan armes en behoeftiges gelewer, insluitend nood­oproepe, hulp met mediese be­handeling en die verskaffing van kos, beddegoed en hokke wat geskenk word.

Colette sê hierdie toekenning stel KAPS in staat om die aandag te vestig op dié organisasie wat fokus op “die vergete landelike gebiede”.

“Behalwe vir die gemak van stedelike sentrums, is daar geen plaaslike sakeborge, advertensie- of fondsinsamelingsgeleenthede nie, en besoeke aan veeartse behels die reis van honderde kilometers.” (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "KAPS kry internasionale toekenning vir omgee"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*