TUSSEN Ladismith en Calitzdorp, aan die voet van die Huisrivierspas, lê die plaas Opsoek.
Dit is hier waar Die Hoorn na Mark en Colleen le Roux gaan soek het nadat ’n paar seuns eendag op netjiese bergfietse en behoorlike fietsrydrag opgemerk is op pad vanaf Oudtshoorn.
In ’n gesprek met die seuns het hulle borrelend vertel van oom Mark le Roux wat hulle aan dié sport blootgestel het. Conray Booysen (18) en Nicolaas Nail (23) het vertel hoe om met hul weldoener in aanraking te kom.
Op Woensdag 7 Oktober het Mark vertel dat hy hom sowat vyf jaar gelede hier kom vestig het en besef het dat hy met sy liefde vir bergfietse moontlik ’n paar skoolkinders kon betrek by bergfietsry.
Hy het te hore gekom van Daan Leoschut wat ’n liggaamsbouklub op Zoar het en hom genader vir die name van seuns wat dalk sou belangstel.
Daan is nou die lewensafrigter vir die fietsryers. Die fietsryklub bestaan reeds uit 20 lede en het borgskappe van Dryland en Bio-Gen ontvang. Die fietsryers het ook al teen fietsryers uit ander dele van die land die asemrowende Hoekovallei gery.
Die fietsryers oefen veral op Saterdae.
Dit is duidelik dat dié verandering in sy lewe vir Conray positief bëinvloed het. Hy bars in trane uit toe hy vertel hoe hy nadat hy sy ouers verloor het, met verkeerde vriende deurmekaar geraak en die Le Roux’s hom weer sy menswaardigheid teruggegee het. Nicolaas versorg op sy beurt sy broer en suster met die hulp van ’n permanente werk op die plaas LekaRoux.
Mark en Colleen le Roux se verhuising na Opsoek het anders uitgedraai as wat hulle gedink het; iets waaroor hulle geensins spyt is nie en hoop dat nog instansies die klub sal begin ondersteun. (Deur Deon Meyer)
