Die Ladismith Polisie slaan hard

Lede van die suksesvolle C-skof van die Ladismith Polisie. Foto verskaf

TWEE mans wat by die Huisrivierpas tussen Ladismith en Calitzdorp vasgetrek is, het Vrydag (9 Oktober) in die Ladismith Landdroshof verskyn op ’n klag van die besit van Mandrax-tablette ter waarde van R12 000.

Die mans, onderskeidelik 32 en 35 jaar oud, is Donderdag (8 Oktober) deur lede van die Ladismith Polisie se C-skof onder leiding van sers Glanville Barry in hegtenis geneem nadat die tablette in hul voertuig gevind is.

Dié polisieoptrede het gevolg nadat inligting die dag omstreeks 14:30 ontvang is dat ’n blou Opel Astra dwelms vanaf Oudtshoorn na Zoar sou vervoer.

Die polisiebeamptes het die voertuig met drie insittendes by die begin van die Huisrivierpas aan die Ladismith-kant ingewag, dit gestop en deursoek.
Die tablette is in die kajuit van die voertuig gevind.

Die twee beskuldigdes is albei van Zoar. Die derde insittende was klaarblyklik net ’n passasier in die voertuig en kon nie met die misdryf verbind word nie.

Die hoof van sigbare polisiëring, kapt Henry Edwardes, het die beamptes geloof vir hul doelgerigt-heid en ywer om dwelmsmokkelaars aan te keer. (Deur Deon Meyer)

Be the first to comment on "Die Ladismith Polisie slaan hard"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*