Eli die gemmerkat is die oulikste!

ELI (4) die gemmerkat van Bianca Theart van Oudtshoorn, is aangewys as die oulikste troeteldier in ’n onlangse kompetisie in Die Hoorn.
Meer as 50 inskrywings is ontvang en bykans ’n R1 000 is vir die Animal Care Team (ACT SA) se sterilisasiefonds ingesamel met vrywillige bydraes wat deelnemers gemaak het.
Die gelukkige Eli, wie se mensgesin duidelik baie lief is vir hom, is as baba deur Theart gered nadat sy ma dood gevind is. Hy spog met ’n mensboetie Eathan (10), wat sy oortjies gereeld krap, en ’n menssussie Luah (7), wat vir hom liedjies sing.
Bianca vertel hy roep na sy gesin as hy tuis kom, sodat almal weet wanneer hy opdaag. Hy is ’n groot jagter.
“Hy bring gereeld voëltjies, muise en paddas vir my huis toe, maar hy maak hulle nie dood nie; hy kom wys hulle maar net vir my,” sê Theart.
Eli se wenprys is ’n geskenkpak van R650. (Deur Angelique Erasmus)