DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het sy eerste ongekwalifiseerde ouditmening sedert die boekjaar 2013/2014 ontvang.
Dit is goeie nuus vir Oudtshoorn en beteken die munisipaliteit het verbeter van ’n “negatiewe opinie” deur die Ouditeur-Generaal in 2014/2015, en drie “gekwalifiseerde menings” in die boekjare daarna na dié “ongekwalifiseerde” mening vir die 2018/2019-boekjaar.
Die mening van die Ouditeur-Generaal is ’n aanduiding van hoe Oudtshoorn, wat tot in 2016 onder administrasie was, onder die leiding van Felix Lötter wat in 2016 as finansiële hoof by die munisipaliteit aangestel is, jaarliks verbeter het. Lötter het ongelukkig einde Oktober by die munisipaliteit bedank om ’n pos elders in die provinsie te aanvaar.
Die volgende stap vir die munisipaliteit is om te streef om ’n skoon oudit te ontvang. Die Ouditeur-Generaal het in sy verslag aangedui wat die munisipaliteit in dié stadium verhinder het om so ’n skoon oudit te ontvang.
Hy beklemtoon egter veral in sy ouditverslag wanpersepsies by die publiek oor die betekenis van “onreëlmatige uitgawes”.
Onreëlmatige uitgawes is nie geld wat onteien of gesteel is nie soos dikwels deur mense vertolk word.
Onreëlmatige uitgawes verwys na geld wat nie bestee is op die wyse wat wetgewing voorskryf nie of nie ooreenstem met die voorsieningskettingbestuursbeleid van die munisipaliteit nie.
In die meeste gevalle waar onreëlmatige uitgawes geïdentifiseer is, hou dit verband gehou met die nie – nakoming van voorsieningskettingbestuursprosesse.
Oudtshoorn se munisipale bestuurder, Allen Paulse, het sy waardering uitgespreek teenoor almal betrokke vir dié verbeterde resultaat.
“’n Groot poging sal egter van ons kant af nodig wees om die aangeleenthede wat in die ouditverslag geopper word, aan te spreek,” het hy bygevoeg.
Ongekwalifiseerde ouditmening goeie nuus vir munisipaliteit
