ACT – Staatsveearts werk saam

Daar is tans steeds baie onkunde oor die werking van die Staatsveearts in Van der Rietstraat in Oudtshoorn.

Die Staatsveeartskantoor werk vanaf 2017 saam met die “Animal Care Team” (ACT) waartydens hulle die eerste massa sterilisasie kliniek aangebied het.

In 2018 het die Staatsveearts toestemming aan ACT gegee om ’n privaat kliniek in ’n gedeelte van hul kantore te stig, om in samewerking ’n diens aan die gemeenskap te bied.

Hierdie kliniek bied dienste aan die gemeenskap wat nie ’n privaat veearts kan bekostig nie. Dit is egter ’n vereiste om ’n bewys te gee van inkomste.

Die staat befonds egter nie die kliniek nie en alle medikasie, steke en ander behandelingsvoorraad word deur ACT self aangekoop.

Volgens Elmarie Swiegers van ACT is die maandelikse kostes om die kliniek aan die gang te hou, nie minder as R15 000 nie.

“Ons doel is sterilisasie, wondbehandeling en basiese dieregesondheid. Dit is egter belangrik dat die gemeenskap weet dat hierdie dienste nie gratis is nie en dat ons welsyns- tariewe vra”, het Swiegers beklemtoon.

Die kliniek het nie vaste ure nie, maar die veeartse is gewoonlik beskikbaar tussen 10:00 en 15:00, Maandae tot Vrydae. Sterilisasies word op Dinsdae en Donderdae gedoen.

Op Woensdae is hulle besig met uitreikwerk en is hulle dus nie beskikbaar nie, tensy daar ’n spesiale reëling getref word.

Kliënte word slegs gehelp as hul inkomste onder die broodlyn is en daar bewys daarvan gelewer kan word.

Vir enige afsprake of advies kan Elmarie gekontak word by 082 498 0177. As enige iemand donasies wil gee kan Vanessa geskakel word by 082 927 7276, slegs tydens werksure (8:00 – 17:00).