Dysselsdorp Polisie trek dwelmsmouse, verediewe vas

Die volstruiskarkas (heel bo) en die Mandraks-tablette (bo) is op dieselfde dag deur die polisie gekonfiskeer. Foto: Verskaf

Die waaksaamheid van lede van die Dysselsdorp Polisie, in reaksie op inligting oor veediefstal het gelei tot die inhegtenisname van vier verdagtes wat na verwagting op Maandag, 29 Januarie 2024 vir hul eerste hofverskyning in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn het, nadat volstruiskloue en karkasse in hul besit gevind is.

Op Donderdag, 25 Januarie 2024 het die lede inligting ontvang van ’n moontlike diefstal van volstruise op ‘n plaas naby Dysselsdorp, buite Oudtshoorn.

Hulle het die inligting opgevolg en ’n huis by Dysselsdorp deursoek. Met hul aankoms het hulle die verdagtes met karkasse en volstruiskloue aangetref.

Die viertal kon nie rekenskap gee vir hul besit daarvan nie en is gevolglik gearresteer op ’n aanklag van besit van moontlike gesteelde eiendom.

Hierdie saak is oorhandig aan die Oudtshoorn Veekraaldiefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid. Verdere ondersoek het die polisie na ’n plaas in die omgewing geneem waar dit vasgestel is dat ’n aantal volstruise vroeër gesteel is. Die vonds, wat na raming R100 000 werd is, is positief gekoppel aan die plaas.

Die verdagtes, tussen 22 en 28 jaar, bly in polisie-aanhouding. Hulle staan tereg op aanklagte van veediefstal en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

In ’n onverwante voorval het dieselfde lede later die dag (25 Januarie 2024) twee klopjagope-rasies uitgevoer op Jephtastraat en Beleliestraat in Dysselsdorp. Die operasies het gelei tot die inhegtenisname van ’n 26-jarige vrou en ’n 26-jarige man nadat die polisie klein hoeveelhede mandraks tablette op hierdie persele in beslag geneem het. Beide was geskeduleer vir hul verskyning in die Oudtshoorn Landdroshof wat op Maandag, 29 Januarie 2024 plaasgevind het.

Hulle staan elkeen tereg op ‘n aanklag van dwelmbesit.

Voorvalle van veediefstal het ’n nadelige impak op die ekonomie van hierdie streek en pogings om sulke voorvalle in samewerking met die boerderygemeenskappe te bekamp, is in plek gestel.

Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die Wes-Kaapse Polisie hul verbintenis beklemtoon om diegene wat die volhoubaarheid van hierdie bedryf deur die diefstal van vee bedreig, voor die reg te bring. (Deur Lindi Brill)