Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.
Aan watter stories dink jy wanneer jy die woord “feëverhaal” hoor?
Ons ken almal feëverhale, volks-verhale of intsomi. Of hulle nou hier in Afrika ontstaan het, en of hulle oorspronklik uit Europa kom, dit is die betowerende stories met vreemde karakters wat nie van hierdie wêreld is nie, soos feetjies, tokkelossies, reuse, monsters, elwe en hekse waarvan ons graag hoor en lees.
Niemand weet presies hoe lank feëverhale al bestaan nie, want hulle het in orale vorm bestaan lank voordat enige daarvan neergeskryf is, maar hulle is beslis al duisende jare met ons. Hulle het ook al om die wêreld gereis en word op verskillende maniere vertel en oorvertel na gelang van waar hulle land!
Die ding van goeie feëverhale is dat hulle bly voortbestaan! Hulle kan weer en weer op baie verskillende maniere vertel word, wat hulle relevant maak vir nuwe gehore. Ntombizanele Mahobe, een van die skrywers van die Xhosa-weergawe van Die
Avonture van Pinocchio, praat oor hoe dit was om hierdie baie bekende storie, oorspronklik uit Italië, in ’n Suid-Afrikaanse konteks oor te vertel: “Ons het begin deur baie verskillende weergawes van die storie te lees. Ons wou hê ons weergawe moes getrou bly aan die oorspronklik storie, maar ons wou ook hê Suid-Afrikaanse kinders moes bekende dinge en plekke daarin kon herken. Ons het diep nagedink oor elkeen van die karakters en wat hulle in die storie voorstel, en toe Suid-Afrikaanse eweknieë vir elk gevind.”
“Oor die tye heen het mense bymekaar geleer deur middel van stories,” verduidelik Carole Bloch van Nal’ibali. “Ons moet die groot stories van die wêreld neem en dit op ons eie manier aan ons kinders oorvertel hier aan die suidpunt van Afrika.
Feëverhale bevat temas en lesse wat universeel is. Wanneer ons dit in ’n Afrika-omgewing oorvertel, is dit meer waarskynlik dat ons kinders daarmee sal identifiseer.”
Op 26 Februarie elke jaar vier die wêreld die betowering van feëverhale op Vertel-’n-Feëverhaal-Dag.
Onthou die datum en sluit volgende jaar op Vertel-’n-Feëverhaal-Dag by Nal’ibali aan deur ’n feëverhaal te lees en een op jou eie manier by jou huis oor te vertel!
