Die name langs die pad … steeds in ons harte

Poem Mooney skryf oor die busreis van Oudtshoorn oor die Swartbergpas na Prins Albert in die ou dae – met die rooi Ford en groen Chevrolet; die Ford vir bruinmense, die Chevrolet vir wittes.
DIE busstop was in Adderleystraat, tussen die ou Drilsaal in Kampstraat en die sakegeboue van die Wilck Broers in Kerkstraat, Oudtshoorn.
Op die hoeksteen van die Drilsaal het ek die volgende woorde gelees: ORV; this stone was laid by The Honourable Cecil John Rhodes MLA, Premier of the Cape Colony, September 1892.
Voor die hoofingang van hierdie imposante Tafelberg-sandsteengebou staan die woorde: Drill Hall 1892 – 1932.
Die groentemark in Oudtshoorn was oorkant die pad. Eintlik was die markplein deel van ’n uitspanning tussen die NG Kerksaal en dié groentemark. Die plein was in die ou dae ’n nagmaal-parkeerterrein.
Aangrensend aan Kampstraat is Loopstraat en Russtraat. Die huise in die genoemde strate was die ou nagmaalhuise waar die plaasboere tydens nagmaal oorgebly het.
Die markplein was nog tot vroeg in 2017 omhein met dieselfde ysterpaaltjies, hoekpale, draad en droppers. Albei kampe, daar was twee van hulle, is tot vandag toe nog nooit geteer nie. Tot onlangs is dit gebruik as parkeerterrein vir die kliënte van die Wilck Spar.
Vanaf dié busstop het die busse na Prins Albert klokslag om vieruur vertrek. Hierdie busse was eintlik net groot vragmotors wat tot busse omgebou is.
Die rooi Ford met die swart modderskerms was spesiaal vir die bruin mense ingerig en die groen Chevrolet vir die witmense. In die passasierskajuit van die wittes se bus was ’n klein kompartementjie vir posstukke en kleinerige pakkette.
Sommige kere het ’n groot vragmotor saam met die busse vertrek. Dié voertuig het dromme petrol, lampolie en gaskanne vervoer, asook negosieware en ander goedere vir boere, plaas-eienaars en winkeliers op die busroete.
As kinders op hierdie roete was dit vir ons belangrik om al die name van die op- en afklimplekke te memoriseer. Dit was sulke betekenisvolle name. Bevatlike name wat in die volksmond ontstaan het.
In die gedig Tram-ode praat Uys Krige oor die name van plekkies, streke, stede oorsee en hier ter lande. Hierdie name het hy tydens sy omswer- winge teëgekom. Oor hierdie plekke sê hy die volgende in die gedig:
“O wakker mars van name deur my gees, van stede, dorpe, plase, plekke waar ek eens gewees het toe ek as seun, verruk onder die lamplig van hulle gelees het.”
So het ek ook oor die name van plekke op hierdie busroete gevoel. Daarom het ons dit goed genoeg geag, Hendrick Murphy en ek, om die plekke op te spoor en goeie foto’s van elke stilhouplek te neem. Ons het altesaam 28 plekke identifiseer.
In die oumense se harte staan die name nog steeds. Die orale verhale en stories van die bus heen en weer oor die Swartbergpas met oom Piet Pampoy is in hulle hart ingegrif. Dié foto’s van bekende plekke sal baie daartoe bydrae om die onthou draaglik te maak.
Weelderig soos die bome, blomme, struike en kruidgewas in die Schoe-manshoekvallei, Schoemanspoort en die Kango, blom die name nog oordadig in ons harte en in die volksmond:
Die Groentemark op Oudtshoorn, “Levintjie se winkel”, Die Pepers, Granaatlande, Die Blomkoms, Die Klipskool, Vergelegen se uitdraai, die Melkstalle, De Jagersplaas, Sewe Myl, Aartappelhoogte, Rooiwal, Schoemansfabrieke, Koeidrift, Spiesfabrieke, Spieswinkel, Salman Booysen se slaghuis, Droërivier, Blommetjieskloof, die Draaiskoorsteen, Oumeul se draai, Olieboom se drift, Die Ou Tol, Le Rouxrivier se afdraai, Nooitgedagcht (Grootkraal), De Hoek, Dwarsrug, (Matjiesrivier se kruis – nou Kobus se Gat).