Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.
Is jou huis ’n huis waar daar gelees word? Is stories deel van jou gesin se daaglikse roetine? Om vir jou kinders te lees help hulle om die wonder van boeke te ontdek. Wanneer jy vir jou kinders lees, leer jy hulle dat boeke dit vir ons moontlik maak om ander mense se lewens te verken en avonture op verskillende plekke te beleef, sonder om ooit ons huise te verlaat!
As jou kinders slegs by die skool lees en wanneer hulle hul huiswerk doen, sal hulle leer om lees met werk, en nie met plesier nie, te assosieer. Ons moet vir ons kinders lees as ons wil hê hulle moet leer dat lees ’n genotvolle en vermaaklike aktiwiteit kan wees. As hulle dit weet, sal dit hulle inspireer om te lees − en om dan meer en meer te lees. Dit is hoe hulle ’n bevredigende lewenslange verhouding met boeke en lees bou. En buiten hierdie voordeel, is daar baie navorsingstudies wat toon dat hoe meer kinders by die huis lees, hoe beter vaar hulle op skool.
Maar lees vir jou kinders kan nie net iets wees wat jy een of twee keer doen nie. Dit moet een van die gereelde aktiwiteite in jou huis wees. Hier volg drie wenke om jou te help om lees deel van jou gesin se daaglikse roetine te maak.
• Wees ’n rolmodel. Wanneer jou kinders jou gereeld sien lees, leer hulle dat lees belangrik is, sonder dat jy dit ooit regtig vir hulle hoef te sê! Praat met jou kinders oor wat jy lees en moedig hulle aan om vrae daaroor te vra.
• As jy wil hê hulle moet lees, lees vir hulle. Besluit op ’n tyd van die dag wanneer jy by jou kinders kan sit en julle saam ’n boek kan geniet – en doen dit dan elke dag! Om stil, rustige tye saam deur te bring help jou om ’n band met jou kinders te vorm.
• Ontwikkel jou kinders se selfvertroue. Toon jou waardering vir jou kinders se pogings om te lees, net soos jy waardering getoon het vir hulle eerste woorde! Gee hulle baie ondersteuning om hulle selfvertroue te ontwikkel – dan is die stryd half gewonne as dit by leer kom. Moedig hulle aan om vir jou te lees. Luister hoe hulle maak of hulle lees. Laat hulle iets probeer lees wat hulle kies – selfs al is dit ’n bietjie te moeilik vir hulle. Tensy hulle jou hulp vra, geniet dit net om te luister hoe hulle lees, sonder om hulle reg te help. Kinders moet soos lesers optree om lesers te word.
• Hierdie artikel is beskikbaar gestel deur die Nal’ibali-lees-vir-plesier-program.
Vir meer wenke oor lees, leesaktiwiteite of stories om saam met jou kinders te geniet in ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse tale, besoek: www. nalibali.org en www.nalibli.mobi, of vind dit op
Facebook en Twitter: @nalibaliSA. Nal’ibali ondersteun die Oudtshoorn Lighuis-leesklub. Maak kontak met hulle by https://www.facebook.com/ OudtshoornLighuis/
