Vullissakke en droogtetariewe
Daar is so een of twee goedjies wat my kwel.
Eerstens is dit vullisverwydering by residensiële persele.
In die verlede het die munisipaliteit blou of groen sakke voorsien vir tuinvullis. Dit gebeur nie meer nie…ook nie swartsakke nie.
Dis egter nie my probleem nie. Wat wel my probleem is, is die feit dat die munisipaliteit weier om swartsakke te verwyder waarin tuinvullis is.
Ek kan hoegenaamd geen rede daarvoor insien nie…
Die blou/groen sakke met tuinvullis is destyds in dieselfde vullisverwyderingstrok gegooi as die swartsakke met huishoudelike vullis. Dit word op die stortingsterrein op presies dieselfde plek uitgegooi.
Wat is die punt dus?
Ek maak tans my tuinvullis op ’n sleepwa bymekaar en gaan stort dit op my eie koste in my eie tyd by die stortingsterrein.
As daar huishoudelike vullis is, gaan dit ook op dieselfde sleepwa, na dieselfde plek toe. Daar is niemand wat tuin- en huishoudelike vullis daar skei nie en ek laat my ook nie oortuig dat dit al ooit gedoen is nie.
Waarom moet ek dan vir vullisverwydering betaal as die munisipaliteit selektief wil wees met vullisverwydering? Ek verwyder in elk geval meeste van my eie vullis self.
Ek daag die munisipaliteit om my hierop te antwoord.
’n Tweede kwessie is die droogteheffing.
Om ’n droogteheffing in te stel sonder ’n waterbeperking maak hoegenaamd geen sin nie. Die ou wat kan bekostig om water te mors kan mors soveel hy wil en die een wat probeer water bespaar moet hom subsidieer.
Ek stem saam dat dit ’n geringe besparing te weeg sal bring by konserwatiewe, ingeligte mense, maar dis onvoldoende.
Geld in die bank kan nie die dam volmaak wanneer hy leeg is nie.
Bespaar water! Moenie geld maak uit water nie!
Waterpype wat bars en duisende liter water wat straat-af loop, het tog uiteindelik ’n invloed op die dam se vlakke, maar nou moet almal daarvoor betaal.
Dis gewoon nie reg nie.
Neem liewer ’n sinvolle besluit en stel waterbeperkings in – soos om byvoorbeeld nie tuine nat te lei met ’n tuinslang nie.
Belaai dan liewer die heffings op die glyskaaltariewe. Maar nee, dis nou glyskaalheffings, jaarlikse verhogings, droogteheffings…
Dis ook blykbaar aanvaarbaar as munisipale water gereeld in Voortrekkerweg afloop om ’n paar roosboompies water te gee met hulle besproeiingstelsel. Dié boompies kan mos met gryswater uit ’n tenk natgelei word, dan nie?
– Deon Bosman, Oudtshoorn
(Die brief is aan die munisipaliteit gestuur vir reaksie. – Redakteur)