Die tweede avontuur

Charmaine Beneke en Janien Müller by die nuuste muis avontuur. Kontak Charmaine vir enige bestellings van haar boeke Milka en Sebastiaan. Foto verskaf

Stories is vensters na die wêreld, gevul met oneindige moontlikhede om te leer, te speel, te ontdek en te droom.

Ek kan myself vir ure besig hou met allerhande kreatiewe dinge, van spoeg en plak tot skryf en soms prentjies teken, dit is ook hier waar ek die naaste aan God voel…om te dink, alles wat ons sien is geskape deur ’n liefdevolle God wat ons lief het met ’n liefde wat nooit kan opraak nie.

Ek word onlangs herinner aan ’n tyd waar ek as kind altyd my oom se suster wou leer. Sy was verstandelik gestrem en haar gunsteling tyd was as ons saam met haar, haar naam geskryf het en ons kon vir ure sit en dit oor en oor skryf.

My jongste boetie is ook verstandelik gestrem met sy eie uitdagings, en as ’n klein dogtertjie het ek geweet ek wil eendag ’n verskil maak in kinders se lewe. As kind glo mens dat jy die wêreld kan oorwin.

Ek het altyd gehou van skryf, maar nie so dat ek dit met enige iemand wou deel nie. Die Here het ’n manier om ’n mens te vorm en te laat groei op Sy tyd. Dit was eers baie later nadat ek getroud was en kinders van my eie gehad het, dat ek begin het om my stories te deel. Hierdie stories was na- tuurlik slegs vir my kinders bedoel, maar dit is iets wat ek altyd sal koester. ’n Verbeelding is ’n kragtige instrument wat baie pret kan verskaf.

Die meeste mense weet my eerste boek is gebore uit my oudste seun se moeilike aanpassingsjaar en as dit my eie idee was, sou ons seker nou nog gewag het vir ’n boek. Albei stories is ver-seker ’n God-idee, ek moes net in gehoorsaamheid loop.

Ek loop oor van dankbaarheid en alle eer aan God vir die wonderlike geleentheid om te skryf.
In die nuwe storie ervaar Milka uitdagings wat hy self probeer hanteer. Dit maak hom bang en angstig, maar gelukkig het hy ’n Mamma wat hom van Jesus leer en lief is vir hom.

Die talentvolle Janien Müller van Langenhoven Gimnasium het elke prentjie lewend gemaak. Jy kan elke emosie voel met die lees van die storie en die versteekte detail bring soveel kleur na die prente. In Mamma Muis se kamer pronk die MuiseLisa (Mona Lisa) teen die muur en daar lê selfs ’n 1c, R2 en ’n paar knope op die kas. Ek is geweldig trots op Janien en dit is lekker om haar te sien groei en ontwikkel. Sy is geseën met ’n ta-lent en ’n mooi sagte hart. Ek is opgewonde om te sien wat die toekoms vir haar inhou en julle kan haar gerus volg op Sosiale Media by JM Sketches.

My wens is dat elke kind sal besef hoe uniek hulle is. Dit is nie nodig om in te pas by die wêreld nie, jy is geskape om uit te staan en voluit te leef. God het ’n doel vir jou lewe en wil jou gebruik. Ons hoef nie bang te wees nie, saam met Hom, kan ons enige iets doen. Soek Jesus in alles wat jy doen, eer Hom in alles wat jy aanpak en weet Hy sal jou krag gee om deur elke strui-kelblok te kom.
2 Timoteus 1:7 “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheer-sing.”

Ek eer God vir twee pragtige boeke. My man en kinders, vir julle het ek lief, dankie vir die ondersteuning, al moet julle 100 keer die storie luister om seker te maak dit is reg. Andre en Nadia Nel van Kingdom Culture, julle is familie, ek waardeer julle, dankie vir die Woord, liefde, opbou en lewe spreek. My vriendinne en familie wat my ongelooflik bystaan en dan my uitgewer (Turksvy Publikasies), Marlene, jy is ’n ster. Dankie dat ek by jou kan leer en deel kan wees van jou span.
Jy kan jou eie kopie van al twee die Milka en Sebastiaan boeke direk by die skrywer kry, Charmaine Beneke – 076 291 3706 (charmainevt@gmail.com), by Turksvy Publikasies en Graffiti boeke.

Vanaf Janien: “Ek is dankbaar dat tannie Charmaine my deel maak van haar stories. Die karakters is vir my BAIE spesiaal. Dit was vir my ʼn groot voorreg om die illustrasies van Milka en Sebastiaan te doen. Saam met Milka en Sebastiaan leer ons dat ons saam met Jesus sterk en dapper kan wees in alle omstandighede.” (Deur Charmaine Beneke)