In 2020 was Jolandi en Jan Geldenhuys in Bolivia, waar Jan ’n paar jaar kontrakwerk op ’n plaas in die Amasone gedoen het, hier is Jolandi se storie:
Die mense in Bolivia kan nie Engels praat nie, almal praat net Spaans. Dit is dus moeilik om met mense te kommunikeer, maar ons dien ’n “amazing” Here, wat tot in die fynste besonderhede in alles van ons lewe belangstel.
In Jesaja 38:19 (1953) staan daar geskryf:
“Die lewende, die lewende, dié sal U loof, soos ek vandag; die vader maak aan die kinders u trou bekend. Die Here staan gereed om my te verlos; daarom sal ons op my snaarinstrumente speel al die dae van ons lewe, by die huis van die Here.”
Ek wil vandag die Here loof en prys vir Sy goedheid vir alles in ons lewens…
Donderdagoggend dink ek, let wel dat ek net gedink het, ek moet vir my man vra of hy nie besigheid in Santa Cruz (So 400 km van ons af, en 6 ure se ry) het nie, want ek het regtig ’n haarsny dringend nodig.
Dieselfde haarkapper wat my hare die vorige keer gedoen het (ek weet min of meer waar sy in die stad is), en voor ek nog iets vir hom kan sê… kom hy in vir ete en sê ons moet Santa Cruz toe om na ’n stroper te gaan kyk en die bakkie te laat diens.
Hy wil ook as ons tyd kry, baie graag by die dieretuin uitkom. (nie een van ons het ’n idee waar die dieretuin in Santa Cruz is nie)
Charlie, die drywer wat ons nog altyd soontoe gevat het, is met verlof. Dis die eerste keer dat ons self stad toe ry, en dit is nie ’n stad wat ons ken nie.
Met die naam in Google Maps ingetik ry ons toe die stad binne. ’n Stad amper so groot soos Johannesburg. Ons moet vir Julio by die werkswinkel kry.
Wel, jul sal dit nie glo nie. Net voor Google sê “you have reached your destination” sê ek vir Jan, “Daar is my haarsalon”.
Ek is absoluut verstom en hy kon my net daar aflaai, 50 meter voor die werkswinkel. Toevallig!
Wel, hul sou 2 uur klaar wees met ons kar, en toe ons daar kom is die kar, tipies Boliviaanse styl, nog nie naby klaar nie.
Ek sê toe vir Jan ek het ’n koffiewinkel op pad na werkswinkel gesien en ons stap soontoe om te gaan koffie drink.
Toe ons voor die winkel staan, kyk Jan so oorkant die straat en vra: “Is dit nie die dieretuin nie?”
Kan julle glo, toe is dit sowaar die dieretuin, reg voor ons.
En die BESTE van alles is, toe ons staan om kaartjies te koop kyk sy so na ons en sê in Spaans dat persone bo 60 jaar kan verniet toegang kry. Nodeloos om te sê dis my eerste bo 60-ervaring.
Dit is voertyd en ons het gesien hoe hulle die Jaguars en Pumas en al die verskillende baie mooi kleiner katte voer.
Ons het ook die Tapir gesien. Al so vlugtig hier by ons op die plaas ook gesien en kry sy spore baie as ons stap.
En die reuse harige miervreter wat ons ook al vlugtig hier op die plaas gesien het.
Ons het so geseënd gevoel.
Ek wou graag met julle hierdie seëninge deel omdat die Here in Sy woord sê “God is ABLE to do exceedingly, abundantly, ABOVE ALL we dare to ASK or THINK.” Efesiërs 3:20
Ek en Jan het die goedheid en guns so wonderlik beleef die paar dae in Santa Cruz dat mens jou net kan verwonder oor Sy bemoeienis met ons.
Hy is so lewendig betrokke by al Sy kinders en ek weet in jul lewens ook. Ons moet dit net raaksien en vertel tot eer van Sy naam.
En dit is my getuienis vandag.
Kingdom News: Dit is my getuienis
’n Tapir, wat lid is van die vark-familie, soos wat Jolandi en haar man Jan by die dieretuin in Santa Cruz gesien het.
Generiese foto