
DIE SWD Sierduifklub het op 31 Augustus ’n streeksopedag by Baron’s Palace gehou en gespog met hul pragtige en unieke duiwerasse. Die doel van die skou was om duiwerasse aan die publiek bekend te stel en so ook blootstelling aan die klub te gee om nuwe lede te werf. In die hokke het 70 duiwe wat 25 verskillende rasse verteenwoordig, trots gepronk.
“Dit was baie interessant om dop te hou en te hoor hoe die besoekers oor die duiwe gesels, veral Jakobyne, Kartelrue en Hoenderduiwe, ’n naam wat al jare aankom,” het Arthur Muller aan Die Hoorn vertel.
Ongeveer 60 besoekers het by die skou kom inloer en om die dag meer opwindend te maak, is hulle gevra om die nommer van die duif wat hulle as die mooiste beskou, op ’n papier in te vul.
Die Jakobyn van Herman Hanekom was loshande die gunsteling gewees en as prys het hy ’n geskenkbewys van Karoopot gewen. Die dag is met ’n bring-en-braai afgesluit. (Deur Lindi Brill)

Bo is die besonderse swart duif, ’n Hoenderduif, wat kompleet soos ’n hoender lyk.

Bo en onder is die duiwe wat pragtige gekrulde vere het, bekend as die Pombo-Cacheado of Kartelrue.
