Oudtshoorn VLV ryg pryse in

Voor, van links is Isabella Jansen (4de plek: Weef), Annette Greeff (1ste plek: Hekel en Mees Uitstaande Item in Leefstyl) en Petro Heyns (3de plek: Brei). Agter is Petro Doman (Voorsitter VLV-Oudtshoorn). Foto: Lindi Brill

Die Vroue Landbou Vereniging-tak van Oudtshoorn het die 94ste VLVK-kongres bygewoon wat op 15 en 16 Augustus deur Sirkel Tygerberg in Bellville aangebied is.

Oudtshoorn se tak het vyf inskrywings na die kongres geneem en ’n handvol pryse losgeslaan. In die Leefstyl-kategorie het ’n gehekelde doilie van Annette Greef, die eerste plek behaal.
Dit is ook as mees uitstaande item benoem. Die doilie word vir ’n jaar in die VLVK se tekstielmuseum in Stellenbosch uitgestal.

’n Gebreide damestrui van Petro Heyns het derdeplek behaal. Isabella Jansen se geweefde serp het die vierde plek in die weefkategorie gekry.

’n Wisseltrofee asook ’n kontantprys is aan die eerste ses plekke in elke kategorie oorhandig.
Enige dame wat belangstel om deel te word van hierdie dinamiese groep vroue van die VLV Oudtshoorn tak word genooi om die voorsitter, Petro Doman, by 072 306 8222 te skakel. (Deur Lindi Brill)