Die toekoms van tradisionele motorhandelaars

NA aanleiding van Nissan/Renault/GWM/Haval wat hul deure hier op Oudtshoorn gesluit het, laat dit mens wonder oor die toekoms van die tradisionele motorhandelaar.

Die groei in aanlynmotorverkope het behoorlik posgevat in Suid-Afrika. Dit het die tweedehandse motormark op sy kop gedraai. Mens sien al hoe minder tweedehandse motorhandelaars. Die jonger geslag verkies toenemend om aanlyn te koop.

Die tradisionele motorhandelaar sal nie verdwyn nie, maar sal op ’n ander manier in die toekoms bedryf moet word. Die handelaars sal nog steeds dienste en onderdele moet verskaf aan voertuig-eienaars.

Eienaars van voertuie wat nog onder waarborg is, maar geen plaaslike motorhandelaar in sy/haar dorp het nie, mag nou by geregistreerde werktuigkundiges hul motors laat diens sonder dat dit die waarborg sal beïnvloed.

Voorheen kon slegs handelaars die diens lewer.

Sommige voertuigeienaars verkies steeds om ’n motor te besigtig en toetsbestuur alvorens hulle dit koop.

Die ander groot faktor wat verandering gaan meebring is elektriese motors.

Alhoewel Suid-Afrika maar nog in sy babaskoene met betrekking tot elektriese motors is, gaan dit beslis ’n invloed op die toekomstige motormark uitoefen. (Deur Heinrich Bosman)