Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale
lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur
middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan –
word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.
Om stories met mekaar te deel is vir mense so natuurlik soos eet en slaap. Trouens, dikwels “dink” ons breine selfs in stories!
Dit maak nie saak of ons kinders of grootmense is nie; ons vertel almal stories oor onsself en ander mense. Soms bly daardie stories net in ons koppe, en soms deel ons hulle met die mense in ons lewens. Ons gebruik stories om ons lewens te verken – die verlede en die hede – en om oor ons toekoms te droom. Stories maak dit vir ons moontlik om sin te maak van ons eie lewens en om bande met familie en vriende te bou.
Maar daar is ook ander stories. Stories wat ons wegvoer na die lewens van mense wat ons nog nooit ontmoet het nie, wat van lank gelede kom, of van plekke wat ons nog nooit besoek het nie. Stories wat ons wegvoer na denkbeeldige wêrelde waar die werklike lewe vervaag en fantasie oorneem. Stories met karakters wat ons as “regte” mense leer ken. Stories wat ons laat lag en huil, en wat ons effens hartseer laat voel wanneer ons aan die einde daarvan kom.
Om vir jou kinders stories te lees en te vertel is een van die kragtigste geskenke wat jy vir hulle kan gee.
Die stories wat ons as kinders hoor en lees, help om ons te vorm. Maar daar is ook baie ander voordele wanneer ons stories met kinders deel. Hier volg ’n paar.
• Om stories te deel help om ’n band met ons kinders te bou. Dit sê vir hulle ons dink hulle is belangrik genoeg dat ons tyd sal maak om saam met hulle stories te lees en te vertel.
• Stories help om hulle verbeelding en kreatiwiteit te stimuleer.
• Stories help om kinders se taal en denke te ontwikkel, veral wanneer hulle dit in hul huistale hoor of lees.
• Stories gee vir kinders voorbeelde van hoe mense die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, hanteer.
• Kinders wat dit geniet as daar by die huis vir hulle gelees word, sal meer gemotiveerd wees om self te lees. Wanneer kinders gemotiveerd is, leer hulle makliker.
Stories het die mag om ons, en die manier waarop ons die wêreld sien, te verander. Wanneer ons stories met ons kinders deel, kan die stories dieselfde vir hulle doen.
• Vir meer wenke en idees om kinders aan te moedig om te skryf, gaan na www.nalibali.org of www. nalibali.mobi
