Man gevonnis tot 30 jaar vir dubbele verkragting van sy stiefdogter

’N MAN van Warmbad naby Calitzdorp is Vrydag (3 Junie) in die Oudtshoorn Streekhof tronkstraf van 30 jaar opgelê vir die dubbele verkragting van sy 15-jarige stiefdogter.

Jonathan van Wyk (29) het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy en sy stiefdogter in ’n geheime verhouding was en sy beide kere toestemming gegee het.

Die voorvalle het op 5 en 9 Augustus 2020 plaasgevind.

Volgens getuienis voor die hof was die klaagster se ma met die eerste voorval dorp toe en is die beskuldigde deur sy eie 12-jarige dogter betrap.

Hy het met die tweede voorval die klaer na sy oom se huis geneem waar hy die onderdeur oopgebreek en haar ver­krag het.

Die klaer skryf in ’n slagoffer-impak­verslag dat sy jammer is vir die be­skuldigde, haar ma en die kinders wat hy by haar ma het. Sy wou die saak terugtrek omdat almal daaronder sou ly, maar het besluit dat die beskuldigde gestraf moet word vir wat hy gedoen het.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het in sy voorvonnisbetoog gesê dat Van Wyk in ’n vadersposisie was en nie enige berou toon nie. Hy het volgehou dat dit ’n geheime verhouding was en daar niks mee verkeerd was nie.

“Die hof moet met die vonnis ’n duidelike boodskap uitstuur na voornemende oortreders,” het Goulding gesê.

Hy het die hof vir lewenslange gevangenisstraf gevra omdat geen genade betoon moet word vir verkragters van kin­- ders nie,

Van Wyk se regsverteenwoordiger, Wen­zel Botha, het die hof versoek om in ag te neem dat dit sy eerste oortreding van die aard is en versoek dat ’n gebalan­seerde vonnis opgelê moet word.

Streeklanddros Ntsoki Moni kon geen wesentlike of dwingende omstandighede vind om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis vir verkragting nie.

Volgens haar is die slagoffer in die verleentheid gestel. Sy het die beskul­digde vertrou as ’n pa.

Na bewerings dat hy in 2016 met haar gelol het, is sy weggeneem van haar moeder om op George by ’n tante te gaan bly. Toe sy in 2020 vir vakansie terug was by die huis omdat sy na haar ma verlang het, is sy binne ’n week twee keer deur die beskuldigde verkrag.

“Dit is hartseer dat vroue uit selfsugtigheid nog dikwels by die oortreders staan,” het die landdros gesê. Volgens die landdros is daar toelae vir kinders en ook ander hulpmiddele wat die staat beskikbaar stel indien ’n broodwinner tronk toe gaan. “So waarom die beskuldigde be­skerm?” het sy gevra.

Van Wyk is tot 15 jaar op elk van die twee klagtes gevonnis en die hof het gelas dat die vonnisse nie samelopend uitgedien kan word nie vir ’n effektiewe vonnis van 30 jaar.

Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word en hy nooit weer met kinders mag werk nie. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)