Vryburger gholfdag ten bate van Lighuis

Die wenspan van die Oudtshoorn Vryburgers se gholfdag was van links Mario Marais, Jacques Terblanche, Laurie Boshoff en Morné Tome. Saam met hulle is Jurie Neetling, Oudtshoorn Gholfklub klubkaptein. Foto: Ebenezer Titus

DIE Oudtshoorn Vryburgers se gholfdag, gehou op Saterdag 4 Junie by die Oudtshoorn Gholfklub, het vanjaar 67 spelers gelok ten bate van ’n goeie doel; die Vryburgers se Kos vir Kinders-projek by die Lighuis.

Vanjaar se wenners; Mario Marais, Jacques Terblanche, Laurie Boshoff en Morné Tome, het op ’n uittel met 102 punte gewen.

Volgens Fanie Fourie, woordvoerder van die Vryburgers, was die spel se formaat ’n “4 ball alliance” met ’n “scramble dryf”.

“Dit beteken almal het saam as ’n span gespeel, maar van die beste bofhou/dryf af tussen die vier spanmaats. Die ‘kinkel’ was dat daar ten minste drie van elke speler se drywe/bofhoue gebruik moes word gedurende die 18 putjies. Op die syfer-drie-putjies het net een speler se telling gegeld, op die syfer-vier-putjies het die beste twee spelers se tellings gegeld, en op die syfer-vyf-putjies het die beste drie tellings gegeld. Die span met die hoogste telling was die wenners,” het Fourie gesê.

“Dit was ’n heerlike sonskyndag en die baan was in ’n puik kondisie met lekker vinnige setperke,” het hy bygevoeg.

Dit was ’n naelbyt-einde vir die dag met beide die tweede en derde plek spanne wat ook op 102 punte geïndig het. Slegs ’n uittel-putjie het die verskil tussen die spanne bepaal.

Tweede was Makka Swart, AJ Swart, Francois Verwey en Lian Verwey, terwyl die derde plek deur Pat Wagenaar, Ebenezer Titus, Marius Westraadt en Terence Raath ingeneem is.

Naaste aan die pen was Swart op die derde putjie, Jan le Roux op die agtste, en Verwey op die twaalfde putjie. Die langste dryf van die dag was deur Jacques Terblanche op die vierde putjie voltooi.

Volgens Fourie sal die fondse wat met die dag bymekaar gemaak is hoofsaaklik vir hulp in die gemeenskap gebruik word. “Ons Kos vir Kinders-projek by ons Lighuis trek maar swaar die afgelope tyd en ons sal van die fondse gebruik om die projek aan die gang te hou,” het Fourie gesê.

Die Lighuis bestaan volgens Fourie al sedert 2011, met 45 kinders tussen die ouderdomme van 6 en 17 wat daagliks van ’n middagete en ’n veillige omgewing waar hul kan huiswerk doen voorsien word. Hulle het ook spasie om te speel, weg van die elemente en bedreigings daar buite. “Daar is ook fasiliteite soos rekenaars en internet wat hul kan gebruik vir hul skooltake en basiesie vaardighede word vir die jonger kinders geleer. Ons is ook betrokke by die lewer van kospakkies vir behoeftiges, soos geïdentifiseer deur die kerke, en veral onder die ouer mense wat nie meer self by die winkels kan uitkom nie,” het Fourie gesê.

Besoek www.facebook.com/vryburgersoudtshoorn om meer uit te vind oor die organisasie of om betrokke te raak. (Deur Stefan Skapie Goosen)