’N 16-jarige jeugdige van Dysselsdorp wat skuldig bevind is op klagtes van die verkragting van ’n 11-jarige seun en die aanranding van ’n 14-jarige seun, is Vrydag (3 Junie) in die Oudtshoorn Streekhof tot vier jaar aanhouding in ’n jeugsentrum gevonnis.
Die beskuldigde het in ’n pleitverduideliking erken dat hy op 20 Januarie 2021 die 11-jarige verkrag het en op 18 Augustus 2021 die 14-jarige met ’n gebreekte bottel in sy gesig aangerand het. Hy het ook erken dat die verkragting van die 11-jarige sonder toestemming plaasgevind het.
Hy het getuig die aanranding het plaasgevind nadat die 14-jarige en nog vriende hom die vorige aand geterg het oor ’n meisie en hy baie kwaad daaroor geraak het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dat die Kinderwet van toepassing is op die saak omdat die beskuldigde sowel as die twee slagoffers almal onder 18 jaar oud was toe die voorvalle plaasgevind het.
“Dit is kommerwekkend dat al hoe meer jeugdiges by misdaad betrokke raak. Hulle kan egter nie daarop steun dat hulle om dié rede tronkstraf kan vryspring nie,” het die landdros gesê.
Albei slagoffers het getuig dat die beskuldigde hulle verneder het.
Volgens die 11-jarige is hy steeds baie kwaad vir die beskuldigde. Hy huil nog baie nagte en kry nagmerries oor die voorval.
“Ek kan my indink hoe hy gespot gaan word.
“Daar is inbreuk gemaak op sy privaatheid en ek voel dat die beskuldigde gestraf moet word,” het Boks gesê.
Die 14-jarige seun het die beskuldigde as sy “maatjie” beskou en gesê dat hy hartseer, bang en kwaad is, en steeds sleg voel oor wat die beskuldigde aan hom gedoen het.
Die hof het in ag geneem dat daar drankmisbruik was, die beskuldigde skuldig gepleit het en ’n eerste oortreder is.
Die staat het ’n uitgestelde vonnis sowel as ’n versoek dat die beskuldigde in die sorg van ’n maatskaplike werker geplaas word, teengestaan – spesifiek vir die ernstige misdryf van verkragting.
Die hof het beslis dat die beskuldigde vir vier jaar in ’n jeugsentrum aangehou moet word waar hy programme moet deurloop om te rehabiliteer.
Voorts het die hof ook gelas dat die twee slagoffers terapie moet bywoon.
Opvolgverslae oor vordering ten opsigte van die terapie moet gereeld aan die hof voorgelê word. (Deur Garnett Wicomb)