Krieketliefhebbers in Oudtshoorn het vandag nóg ’n rede om hul oë op die bal te hou – en dié keer nie net omdat die Garden Route Badgers op die veld is nie.
Die Badgers pak vandag, Donderdag 1 Oktober, die Eastern Cape Iinyathi om 13:00 by die REC-gronde in Oudtshoorn in die YesPlay Pro20 Cup.
Vir toeskouers anderkant die grenslyn kan die aksie net so interessant raak.
As ’n kolwer ’n ses in die skare slaan en jy maak ’n skoon, eenhandige vangskoot, kan jy kwalifiseer vir ’n deel van ’n R2 miljoen-pryspoel.
Daar is natuurlik ’n paar reëls – so moenie sommer met jou buurman oor die bal stoei nie.
Die bal moet direk van die kolf af vir ’n ses gaan en skoon met een kaal hand gevang word. Dit mag nie eers aan ’n ander persoon of voorwerp raak nie en ook nie eers uit die hand bons voordat dit vasgevang word nie.
Die vangskoot moet boonop op video vasgelê word sodat dit geverifieer kan word.
Deelnemers moet 18 jaar of ouer wees en aan die kompetisievoorwaardes voldoen. Indien meer as een persoon gedurende die kompetisie ’n geldige vangskoot maak, word die R2 miljoen tussen die kwalifiserende wenners verdeel.
Die kompetisie geld gedurende die YesPlay Pro20 Cup, wat tans landwyd plaasvind.
Dus, as jy vandag by die REC-gronde sit, hou jou oog op die bal – en dalk een hand gereed.
