Kom vier die lente by Boplaas!

DIE komende naweek (2 en 3 September) gaan dit behoorlik gons by Boplaas Familiewingerde op Calitzdorp met die eerste Lentefeesviering wat daar gehou word.

Die vrugtebome, veral die perskes en appelkose, staan nou vol in die blom en maak dit die perfekte geleentheid om die nuwe seisoen te vier.

Die familieplaas wat al sedert 1880 ’n staatmaker in die Suid-Afrikaanse wynbedryf is, is die afgelope drie dekades bekend vir sy uitstaande portstyl-wyne en Boplaas se rakke kreun onder al die trofees, medaljes en toekennings in nasionale en internasionale kompetisies.

Tans is die hele Nel-familie by die wynplaas betrokke, met Carel as keldermeester en Margaux, as wynmaker.

Die plaas sal oor die twee dae die naweek besoe­kers die geleent­heid bied om hul wyne, jenewer, brandewyn en whisky te proe.

Die hele gesin is wel­kom om piekniek tus­sen die boorde te gaan hou. Bring jou eie kos of bespreek voor die einde van vandag (Donderdag) ’n piekniek by Boplaas.

Ander aktiwiteite:
• Klein-happie-proeë met tafelwyne van Kaap-Portugese kultivars. Geen besprekings is hiervoor nodig nie.
• Kuier by die Stoepsit Bistro oor ’n bord Portugese hoender met ’n komplimentêre glas rooi- of wit Portugese tafelwyn, terwyl die kinders hulself geniet op die springkasteel.
• Kom neem die oulikste selfie in die foto-kiosk en skryf in vir die fotokompetisie waarin jy heerlike pryse kan wen. Deel jou foto’s op sosiale media en merk #boplaaswines.
• Daar sal ook die naweek verskeie wyn-aanbie­dinge teen spesiale pryse beskikbaar wees.

Die Lentefees vind Saterdag en Sondag van 09:00 tot 17:00 plaas.
Kontak 044 213 3326 of e-pos boplaas@ mweb.co.za vir meer inligting.